Gimmies blink uit op fietse, perde en die landloopbaan
Die skool is trots op elke atleet wat deelgeneem het en die Gimmie-gees met trots uitgedra het.
Potchefstroom Gimnasium se sportsterre het die afgelope tyd weer hul staal gewys en met indrukwekkende prestasies in fietsry, perdry en landloop gewys waarom die skool se sporttradisie so sterk is.
Fietsryers trap hul pad na goud
Gimmies se seunsfietsryers het aan die Crater Cruise-byeenkoms by Koedoeslaagte, wat deel vorm van die Suid-Afrikaanse Bergfietskampioenskappe deelgeneem en uitstekende resultate behaal.
Op die uitdagende roete het die ryers nie net hul fiksheid nie, maar ook hul deursettingsvermoë en karakter ten toon gestel.
In die Junior Men-afdeling oor 50 km het Reuben Jonker eerste geëindig, terwyl Alex Fourie die eerste plek in die Youth Men-afdeling oor 50 km ingeneem het. Dian Scholtz het ook sterk vertoon en sesde geëindig.
Die puik prestasies getuig van die ryers se harde werk en toewyding.

Ruiters maak hul merk in Brits
Gimmies se ruiters het uitstekende resultate behaal tydens Kwalifiserende Byeenkoms 3 by Heartland Equestrian in Brits.
Karien van Wyk het ‘n eerste plek in die 1 m 2 Phase Showjumping behaal, terwyl sy ook tweede plekke in die 1 m A2 Showjumping, 90 cm Equitation en 90 cm Working Hunter ingepalm het.
Bianca Janse van Rensburg was een van die sterpresteerders en het eerste plekke in Equitation, Performance Riding, Working Hunter en Jumping 70 cm 2 Phase behaal. Sy het ook vierde geëindig in die Jumping 70 cm A2.
SJ Janse van Rensburg het tweede geëindig in Equitation en eerste plekke in Working Riding en Jumping 60 cm 2 Phase behaal.
Rachel Boshoff het derde geëindig in Performance Riding en eerste plekke in Working Hunter, Working Riding, Jumping 70 cm 2 Phase en Jumping 70 cm A2 Competition behaal.
Minette le Roux het ook uitgeblink met eerste plekke in Showjumping 2 Phase, Showjumping A2 en Dressage Prelim 3. Sy het tweede geëindig in Dressage Prelim 1 en Working Hunter, en derde in Working Riding.
Die uitslae weerspieël die ruiters se harde werk, toewyding en deursettingsvermoë.

Landloopatlete hardloop na sukses
Gimmies het ook puik gevaar tydens Landloop Liga 3 by La Hoff, waar verskeie atlete podiumplekke en top-10-posisies behaal het.
By die dogters het Melanie Mels derde, Zanté Jonck vierde en Lené Bester sesde in die o.14-afdeling geëindig. In die o.16-afdeling het Rianca Jonker die eerste plek ingeneem.
Onder die seuns het Tedrich Hattingh derde, Marnó Hattingh sesde en Cody McCarthy tiende in die o.14-afdeling geëindig. Louis van der Linde was vyfde in die o.15-afdeling, terwyl Adam van Staden sewende en Stephan du Plooy 15de in die o.16-afdeling geëindig het. In die o.17-afdeling het FC Jonck sesde en Tiaan Slabbert 12de geëindig.




