E.S. le Grange-skoolhoof met nasionale toekenning vereer
"Spesiale onderwys is nie net my beroep nie, dit is my passie en my roeping."
Die skoolhoof van E.S. le Grange-skool, Michelle Jerling, is op nasionale vlak vereer vir uitnemendheid in Onderwysleierskap: Leerders met Spesiale Onderwys Behoeftes (LSOB-skole) by die SAOU-toekenningsfunksie op 18 Junie.
Hierdie toekenning is nie net ‘n persoonlike prestasie vir Jerling nie, maar ‘n bewys dat elke personeelid, leerder en ouer van die E.S. le Grange-familie ‘n bydrae lewer.
“Om erkenning op nasionale vlak te ontvang, is ‘n groot eer, maar dit dien ook as ‘n herinnering aan die verantwoordelikheid wat ons dra om elke dag ‘n verskil in die lewens van ons leerders te maak. Ek aanvaar hierdie toekenning met groot dankbaarheid, want dit is die resultaat van spanwerk, opoffering, deursettingsvermoë en ‘n gedeelde passie vir spesiale onderwys,” noem Jerling, wat al vyf jaar skoolhoof by E.S. le Grange is en al 35 jaar in die onderwys is.

“Spesiale onderwys is nie net my beroep nie, dit is my passie en my roeping.”
Daagliks is dit vir Jerling belangrik dat elke kind die reg het om gesien, gehoor en geliefd te voel. Dit inspireer haar om die glimlag van ‘n leerder te sien wat iets regkry, wat voorheen onmoontlik was.
“In die spesiale onderwys werk ons nie net met leerders nie; ons werk met drome, potensiaal en die geleentheid om ‘n werklike verskil in iemand se lewe te maak. Ek glo dat elke kind ‘n unieke doel het en dat dit ons verantwoordelikheid is om hulle te help ontdek dat hulle waardevol is, dat hulle behoort en dat hulle tot groot dinge in staat is.”
Sy voer verder aan dat die personeel by E.S. le Grange haar ook motiveer.
“Hulle liefde, geduld en toewyding inspireer my om elke dag my beste te gee. Spesiale onderwys is nie net my beroep nie, dit is my passie en my roeping.”
Jerling vertel dat geduld, konsekwentheid en empatie die kern is van ware onderrig en ondersteuning.
“Op ’n persoonlike vlak speel my familie en naaste ondersteuningsnetwerk ’n belangrike rol. Hulle bied die balans, bemoediging en stabiliteit wat nodig is om met volle toewyding my werk te kan doen.
“Uiteindelik is my grootste “mentors” egter ook die leerders self. Hulle leer my daagliks oor veerkragtigheid, onvoorwaardelike vreugde en die ongelooflike potensiaal wat in elke mens bestaan.”
Vir Jerling is die lekkerste aspek van haar rol as skoolhoof om elke dag deel te wees van ’n skoolgemeenskap waar liefde, toewyding en deursettingsvermoë sigbaar is in alles wat hul doen.
“Aan die einde van elke dag is my grootste beloning nie die toekennings of erkenning nie, maar die wete dat ek ‘n verskil kon maak in die lewe van ‘n kind en hoop kon bring aan ‘n gesin. Dit is wat my dryf. Dit is waarom ek doen wat ek doen.”



