Local newsNewsNews

Aardklop bied 30%-afslag met spesiale Winterpromosie

Kry 30% afslag op uitgesoekte produkies.

Die langste nag was op 21 Junie en die winter is nou in volle gang. In die noorde is die lug so droog dat ’n mens omtrent in baba-olie moet bad, terwyl die Kapenaars kla oor die wasgoed wat net nie wil droog word nie.

Dis in ietwat mistroostige tye soos hierdie wat ’n mens vir jouself iets moet gee om na uit te sien, en Momentum Aardklop het besluit om ’n handjie by te sit – met ’n lekker 30%-afslag* op uitgesoekte feeskaartjies. Dan het jy minstens ’n fees om na uit te sien!

Só maak jy

Om dié afslag te kry (sien onder vir die produksies waarvoor dit geld), gaan na SeatMe.co.za, kies die produksies waarvoor die promosie geld, en wanneer jy betaal, voeg jy die kode YS1G26 in.

Baie belangrik: Jy kan net tussen Vrydagoggend 3 Julie om 08:00 en Sondagoggend 6 Julie om 08:00 van hierdie spesiale aanbod gebruik maak.

Die produksies waarvoor die afslag geld, is:

COENIE@70: Coenie de Villiers vier sy 70 jaar op die planeet en sy meer as 40 jaar in die kunste met hierdie debuutproduksie – ’n intieme en baie persoonlike terugblik op die afgelope dekades. Kom luister na die liedere wat tot hom spreek en wat nie noodwendig gereeld gehoor word nie. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

Oorsprong: Die pianis en komponis Marcel Dednam maak sy feesdebuut met ’n versameling eie komposisies, aangevul deur stylvolle jazzverwerkings van bekende liedjies, spontane improvisasie, asook ’n unieke samesmelting van Afrikaans en jazz. Met: Marcel Dednam (ook die komponis), Werner Spies, Peter Auret en gaskunstenaars. (Volprys: R160. Afslagprys: R112)

The Scullery Quintet: Seasoned to Taste!: Die bekroonde kwintet keer terug met ’n splinternuwe program. Hulle is bekend vir innoverende verwerkings en treffende optredes waarin klassieke meesterstukke met vars interpretasies aangepak word. Die program sluit ’n verskeidenheid volksliedjies in – van die Balkan, Pole, Amerika en Suid-Afrika – en ook werke van o.a. Rodrigo, Corelli, Beethoven, Art Blakey, Brahms en Bheki Mseleku. Met: Hana Yim-Wahl, Waldo Alexander, Tiisetso Mashishi, Viwe Mkizwana en Peter Auret, wat ook die musiekregie en -verwerking behartig het. (Volprys: R170. Afslagprys: R119)

Die Boulevard Harmoniste: Dié groep neem gehore op ’n a cappella-musiekreis deur oomblikke wat ons almal ken: die gejaag van tyd, die stilte van die nag, verlange na vervloë dae, en die vreugde van saam onthou. Hierdie produksie verweef klassieke meesterwerke met hedendaagse gunstelinge. Met: Lara Badenhorst (sopraan), Kristen Koekemoer (mezzo-sopraan), Lanka Stols (alt), Hava-ja-toivo Carels (tenoor), Daniël van Wyk (bariton), Frans Venter (bas), en Kobus Venter (musiekregisseur). (Volprys: R170. Afslagprys: R119)

Davel en Klink: In harmonie: Kom luister, lag en sing saam met Anna en Ilse wanneer hulle hierdie KKNK Kanna-benoemde produksie (Beste Kontemporêre Musiekproduksie) Aardklop toe bring. Daar is musiek van Joni Mitchell tot Anneli van Rooyen en vele meer. Met: Anna Davel, Ilse Klink en Jody Jason Petersen (klavier). Regie deur Anna Davel en musiekregie deur Jody Jason Petersen. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)

Belofte van vere: Op publieke aanvraag bring Momentum Aardklop vir die laaste speelvlak hulde aan die geliefde Breyten Breytenbach. Hierdie spesiale program wat opnames van sy eie voorlesings insluit, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings (hetsy nuut of nuwe verwerkings). Met: Rolanda Marais en Eben Genis (stemkuns), Ilse Klink (sang), Concord Nkabinde (baskitaar), David Klassen (tromme), Leon Gropp (kitaar en sang) en Laurinda Hofmeyr (klawers en sang). (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

‘KUNS’: Die vriendskap van drie jare lange vriende word tot die uiterste beproef wanneer een ’n groot, duur skildery koop. Die produksie, onder regie van Marthinus Basson en gegrond op die Franse dramaturg Yasmina Reza se veelbekroonde ‘Art’, het in 2025 vyf Kanna-pryse ontvang, onder meer vir beste toneelaanbieding en beste ensemble, asook ’n Woordtrofee vir beste ensemble. Met: Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt (Volprys: R200. Afslagprys: R140)

Romantic Jazz for Violin and Piano: ’n Meesleurende program van tydlose romantiese jazzmelodieë uit die goue era, aangebied in ’n klassieke vioolstyl en vermeng met jazz-improvisasie op die klavier vir sielvolle, nostalgiese bekoring.

Prof. Piet Koornhof (viool) is bekend vir sy liriese interpretasies en innoverende programmering. Emeritus professor Nicol Viljoen (UFS) se innoverende verwerkings en verstommende improvisasies bied die ideale grondslag vir hierdie romantiese ervaring. (Volprys: R210. Afslagprys: R147)

Hartsbriewe: ’n Vertoning deurdrenk met nostalgie, warmte en die sagte fluisteringe van liefde in al sy gedaantes. Laat die klanke van Coenraad Rall se klavier jou dra na vervloë oomblikke, terwyl die geliefde TV-aanbieder en akteur Hannes van Wyk jou op reis neem met ’n keur van briewe wat soos geheime in ’n ou laai gebêre was. Ook met Coenraad Rall, regie deur Hannes van Wyk, en teks deur Desiré Gardner (van Magda Louw-faam) en Hannes van Wyk. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)

Hartsbriewe.

Liefde, Lafras: Lafras (Gerben Kamper) sterf, maar verlaat nooit die huis nie. Nou sukkel Gertie (Antoinette Kellermann) om haar lewe met haar man se spooklewe te versoen. Elke gesin het sy spoke, maar hierdie een kan ongelukkig nie bly nie. Namate hulle ’n tweede wittebrood in hul huwelik beleef, verloor Lafras stadigaan sy krag en teenwoordigheid en bevraagteken alles – van God tot liefde en die sin van die lewe. Regie en stelontwerp: Wolf Britz. (Volprys: R230. Afslagprys: R161)

*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys. Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie vir hierdie afslag in aanmerking nie. Maak ’n draai by aardklop.co.za vir die volledige feesprogram, en hou ook Aardklop se sosiale media dop vir nog spesiale aanbiedings in die aanloop tot die fees

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button