NWU atlete het vasberadenheid en deursettingsvermoë bewys tydens die 2026 SA Padkampioenskappe in Gqeberha (Nelson Mandelabaai) op Saterdag 27 Junie.
Thinus Erasmus en Bertus van der Linde, was twee van die uitblinkers wat die junior mylwedloop oorheers het. Erasmus het sy NWU-spanmaat Van der Linde in ’n spannende wedloop geklop om goud te wen. Van der Linde het net ’n paar treë agter hom oor die eindstreep beweeg om silwer te verower en sodoende ’n uitstekende eerste en tweede plek vir NWU in Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW)-kleure te behaal. Nicholas de Scally het ook beïndruk met ’n sterk vyfde plek in die senior myl.

Die myl bied die geleentheid vir tradisionele baandatlete om hul spoed op die pad oor die 1,6 km-afstand te wys.
Koketso Mokoto het nog ’n goue medalje vir NWU ingepalm met ’n uitstekende vertoning in die mans 5 km-wedloop. Hy het voor sy NWU-spanmaats Nicholas Killian (8ste), Mohamed Batsi (25ste) en Avuma Pheza (29ste) geëindig.

Die senior manspan het ook ’n stewige vertoning gelewer om vyfde algeheel te eindig.
In die mans 21 km-wedloop het Dino Nako (34ste) en Divan de Vries (44ste) hul goed van hul taak gekwyt teen van die land se beste padatlete.
Tracey Oliver, NWU-atletiekbestuurder, het die span geloof vir hul vertonings en die wyse waarop hulle die universiteit verteenwoordig het.
“Die uitslae is regtig goed. Die podiumplekke in die myl was ’n fantastiese prestasie vir die juniors, aangesien die meeste van hulle deel vorm van ons baanatleetgroep.”
Uitslae
21 km Mans
- Dino Nako – 34ste
- Divan de Vries – 44ste
21 km Vroue
- Kaitlyn Steenkamp – 16de
5 km Mans
- Koketso Mokoto – Goud
- Nicholas Killian – 8ste
- Mohamed Batsi – 25ste
- Avuma Pheza – 29ste
5 km Vroue
- Kaitlyn du Plessis – 18de
Junior Myl Mans
- Thinus Erasmus – Goud
- Bertus van der Linde – Silwer
Senior Myl Mans
- Nicholas de Scally – 5de



