Local newsNewsNews

Drie jaar van wag en onsekerheid laat Potchefstroom-man moed verloor

Ná verdere ondersoeke is hy volgens hom op 'n wagtydlys vir nog 'n operasie geplaas.

Vir die afgelope drie jaar leef Barry Schmulian met voortdurende gesondheidsprobleme, herhaalde hospitaalbesoeke en ‘n lang wagtyd vir behandeling wat volgens hom sy lewe baie beïnvloed het.

Schmulian vertel dat sy mediese probleme begin het ná ‘n prostaatoperasie, waarna hy steeds met ‘n erg geswelde testikel gesukkel het. Volgens hom is hy tussen verskillende afsprake en dokters verwys, met die hoop dat die probleem uiteindelik opgelos sou word.

“Ek sukkel nou al drie jaar met my gesondheid. Van die begin af word ek van een afspraak na die volgende gestuur. Ek sien elke keer ‘n ander dokter, maar ek wag steeds vir die operasie wat ek nodig het,” sê Schmulian.

Hy verduidelik dat hy ná sy prostaatoperasie deur ‘n dokter in Klerksdorp na Potchefstroom-hospitaal verwys is omdat die prosedure glo daar gedoen moes word. Sedert Oktober 2025 het hy verskeie konsultasies, ‘n sonar, ‘n CT-skandering en ‘n noodoperasie vir ‘n breuk ondergaan.

Hoewel daar aanvanklik aan hom gesê is dat die operasie sy probleme sou oplos, sê Schmulian die swelling in sy linkerbuik en testikel het aangehou. Ná verdere ondersoeke is hy volgens hom op ‘n wagtydlys vir nog ‘n operasie geplaas.

“Ek is telkens meegedeel dat daar nie breuk-‘mesh’ beskikbaar is nie en dat dit ‘n nasionale probleem is. Intussen kan ek ook nie teruggaan vir die volgende prosedure aan my urienbuis voordat hierdie operasie afgehandel is nie,” vertel hy.

Hy sê die lang wagtyd het nie net sy gesondheid geraak nie, maar ook sy inkomste.

“Ek het verlede jaar my werk verloor omdat ek so baie dokters moes sien en voortdurend met ‘n kateter moes rondloop. Dit raak ‘n mens fisies, emosioneel en finansieel.”

Ná navrae oor sy saak het Potchefstroom-hospitaal se kwaliteitsversekeringsbestuurder, sr. Jonette Potgieter, Schmulian versoek om sy volledige mediese geskiedenis per e-pos aan haar te stuur sodat die saak ondersoek kon word.

Volgens Schmulian het Potgieter hom daarna laat weet dat sy sy pasiëntlêer sou bekom en die saak saam met die kliniese bestuurder sou bespreek voordat daar op ‘n plan van aksie besluit word.
Teen publikasietyd het Schmulian egter gesê hy het nog geen verdere terugvoer of ‘n nuwe operasiedatum ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button