Na ‘n jaar in die Rosestad blom die Knights kolwer, Ruan Haasbroek, se krieketloopbaan behoorlik in so mate dat hy vir die Beste T20 Divisie 2 speler-toekenning by die Krieket Suid-Afrika-toekennings genomineer is.
Haasbroek, wat ‘n voormalige Potchefstroom Gimnasium krieketkaptein is (matrikulant in 2015), staan ‘n goeie kans om die toekenning te verower. Hy het 139 lopies in vyf beurte geslaan met ‘n hoogste telling van 76 en ‘n kolftempo van 187.8.

Haasbroek en sy spanmaats by die Knights het al drie Divisie 2-titels gewen en met gemak na Divisie 1 opgeskuif. Die span van Bloemfontein kan nou weer teen die groot honde van Suid-Afrikaanse krieket kompeteer.
Hy noem dat hy baie dankbaar vir die nominasie is, maar dat die grootste beloning egter die Knights se drie bekerseges is.
“Dit is altyd lekker om te sien dat ’n mens se harde werk aan die einde van die seisoen erken word. My hoofdoel toe ek die skuif na Bloemfontein (van Northern Cape Heat) gemaak het, was om wedstryde vir die span te wen en al drie trofeë te lig. Om boonop erkenning daarvoor te ontvang, is net ’n ekstra bonus,” vertel Haasbroek.
Hy is saam met Thozama Totana (Grens), George van Heerden (SWD) en Andile Mhletywa (Grens) vir die toekenning genomineer.
Haasbroek se roete na die Knights het deur verskillende provinsies gegaan, wat periodes by die Noordwes Dragons, Lions, Limpopo Impalas en Northern Cape Heat ingesluit het.

“Dit het baie gehelp het om terug te kyk na die laaste drie jaar, waarin ek goeie seisoene gehad het. Dit het my gehelp om te verstaan wat vir my persoonlik werk en nie werk nie ten opsigte van my benadering tot wedstryde en verskillende kondisies.”
Knights afrigter, JP Triegaardt en kaptein, Dan Piedt het ook baie vertroue in Haasbroek gewys en deurentyd ondersteun.
“Dit het gemaak dat ek met vryheid en ’n skoon kop op die veld kon stap. Die grootste eer en dank kom ons Hemelse Vader toe, wat my deur die goeie én moeilike dae gedra het.”
Die geleenthede is groot vir Haasbroek en sy Knights spanmaats om hulself weer teen die beste spanne in SA te meet en trofeë te wen en nie net hul plek in divisie 1 te behou nie.
“Vanuit ’n persoonlike perspektief sien ek daarna uit om myself te meet aan hoe ek as speler gegroei het sedert my tyd by die Lions, en om steeds verder te leer en te ontwikkel,” verduidelik Haasbroek.
“Ek wil graag ook sien hoe ons span as underdogs kompeteer en hopelik weer ’n trofee of twee kan inpalm. Ek sien ook baie daarna uit om weer in Potchefstroom voor familie en vriende te kan speel.”
Hierdie kranige middelorde-kolwer se twee gunsteling beurte sluit sy hoogste telling in ‘n vierdagwedstryd (174) sowel as die 76* in ‘n senutergende T20-stryd.

“My 174 in ’n vierdagwedstryd, nadat ons vroeg vinnig paaltjies verloor het, staan beslis uit. Ook my onoorwonne 76* in ’n T20-wedstryd waarmee ons die wedstryd met een bal oor gewen het.”
Krieket het lewenslesse vir Haasbroek in die afgelope 10 jaar geleer en hy glo dat als in plek val met harde werk en geloof in God.
“Ek het geleer dat jou identiteit buite krieket belangriker is as wat jy op die krieketveld bereik. Elkeen se pad is anders en reeds uitgelê. Jy kan net beheer wat binne jou beheer is, en God sal vir die res sorg.”
Drie dinge waarvoor Ruan Haasbroek dankbaar is:
- God se hand en leiding oor my gedurende die afgelope seisoen.
- My familie se onvoorwaardelike ondersteuning.
- Die geleentheid om elke dag te kan doen waarvoor ek lief is en my passie uit te leef saam met mense wat dieselfde doelwitte nastreef.



