Local newsNewsNews

Muurportret bring kreatiewe goedvoel element na Konservatorium

Jean Lampen, 'n plaaslike kunstenaar, is aangestel om hierdie projek te dryf.

Onder leiding van die plaaslike kunstenaar Jean Lampen is die NWU Konservatorium se muurportret besig om nuwe lewe te kry.

Lampen het saam met Marlene Eksteen en Marna de Wet aan hierdie muurportret gewerk, wat met gekapte badkamer, vloer en mosaiekteëls aangebring is. Dit is gebaseer op een van Lampen se waterverfportretwerke wat ‘n landskap vanaf Lekwena in die rigting van die Vredefortkoepel/Parys uitbeeld.

Hulle het die afgelope naweek die muurportret voltooi, waaraan hulle vier weke gewerk het. Volgens Lampen het hulle ongeveer vyf tot sewe ure per dag daaraan spandeer.

Die drie dames, Marna de Wet, Marlene Eksteen en Jean Lampen saam met messelaars wat ook kom help het.
Die muurportret wat die plaaslike kunstenaar, Jean Lampen saam met Marlene Eksteen en Marna de Wet help aanmekaar sit het.

Die direkteur van die NWU Skool vir Musiek, prof. Conroy Cupido, het met die idee vorendag gekom om ’n plaaslike kunstenaar te gebruik om ’n geverfde muurportret te vervang.

“Ons is tans besig met vernuwing en aanbouings by die skool. Die geverfde muurportret moes vervang word weens die toestand van die muur. Ek het per toeval ’n ander muurportret van Jean gesien en haar gevra nadat ek die groenlig by ons NWU-projekbestuurspan gekry het,” noem prof. Cupido.

Die waterverfskildery van Jean Lampen wat as inspirasie gedien het.

Sy “opdrag” aan Lampen was om ’n landskap te skep waarna studente en dosente kan kyk en ’n lekker gevoel kan kry wanneer hulle studeer en werk.

“Musiek en welstand is een van ons navorsingsfokustemas binne ons skool. Jean het my toe een van haar waterverf-kunswerke gewys wat as inspirasie sou dien, en dit was perfek.”

Marlene Eksteen, wat deel van die muurportret-span was.

Cupido noem dat hy bly is dat Marna, Marlene en Jean saam aan die muurportret gewerk het, omdat die Potchefstroom-gemeenskap so ook hul stempel op die vernuwing kon afdruk. Hy vertel ook dat Marna en Jean ander belangrike insette gelewer het.

“Marna en Jean het ook gehelp om ’n ander muurportret, wat Tina Hattingh amper 70 jaar gelede gemaak het, te help restoureer. Laastens het hulle ook gehelp met insette oor hoe om ons Pretorius-kunsversameling te hang nadat die vertrek oorgedoen is.”

Prof Conroy Cupido, direkteur van die NWU Skool vir Musiek

Volgens prof. Cupido behoort die vernuwing by die NWU Konservatorium ongeveer teen middel 2027 voltooi te wees. Die voorkant van die gebou sal moontlik teen die einde van die jaar voltooi wees.

“Ons saal gaan ook weer oop wees vir Aardklop, alhoewel die aangeboude areas voor nog nie klaar sal wees nie. Dit was vir my baie belangrik dat ons alles moontlik doen om Aardklop so te kan ondersteun.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button