Generaal Jan de Waal se nalatenskap sal voortleef
Vir dié wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk, hom te ken of onder sy leiding te dien, sal sy naam egter nie saam met sy uniform tot ’n einde kom nie.
Potchefstroom en die Suid-Afrikaanse polisie- en veiligheidsgemeenskap treur oor die afsterwe van Genl. Maj. (Aftr.) Jan de Waal, wat op Sondag 9 Augustus oorlede is.
Genl. De Waal het as Divisionele Kommissaris in die voormalige Wes-Transvaal, wat vandag as Noordwes bekend staan, gedien. Hy word onthou as ’n gerespekteerde polisieman, leier en, bo alles, ’n ware heer.
Vir diegene wat hul lewens aan polisiewerk, sekuriteit en nooddiens gewy het, is daar sekere mense wie se nalatenskap veel verder strek as hul rang of uniform. Genl. De Waal was een van dié mense.
Hy het sy loopbaan met trots, integriteit en toewyding aangepak en ’n voorbeeld gestel vir diegene wat ná hom sou volg.
Fred Flemming, ’n voormalige polisiebeampte wat die pad saam met Genl. De Waal gestap en saam met hom gewerk het, sê sy afsterwe laat ’n groot leemte.
“Generaal klein Jan de Waal sal nooit vergeet word nie. Ons oudpolisiemanne wat die pad saam met hom geloop het en saam met hom gewerk het, sal altyd behoue bly,” sê Flemming.
Volgens hom was Genl. De Waal streng, maar terselfdertyd ’n baie goeie mens wat na die belange van sy ondergeskiktes en ander mense om hom omgesien het.
“Om van sy afsterwe kennis te neem, is baie hartseer. Baie, baie sterkte aan sy familie en kennisse wat agter moes bly.”
Flemming sê die familie en geliefdes word in hierdie moeilike tyd in sy gebede opgedra.
“Ons bid tot ons Almagtige Hemelse Vader vir vertroosting aan die familie en die wat agter moes bly. Die afskeid is so finaal, tot ons hom weer eendag sal ontmoet. Rus in vrede, Generaal Jan de Waal.”
Die Nasionale Uitvoerende Raad van die SA Weermagtevereniging en sy lede het ook met groot hartseer van Genl. Maj. (Aftr.) De Waal se afsterwe kennis geneem.
Aan sy familie is ’n boodskap van innige meegevoel gerig, met die wens dat die goeie herinneringe aan hom hulle deur hierdie moeilike tyd en die pad vorentoe sal dra.
Vir dié wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk, hom te ken of onder sy leiding te dien, sal sy naam egter nie saam met sy uniform tot ’n einde kom nie.
Sy nalatenskap leef voort in die mense wat hy beïnvloed het, die lewens wat hy aangeraak het en die voorbeeld wat hy gestel het.



