SportSport

Goue glorie vir NWU-spiesgooier by Wêreldkampioenskappe

"Dit het nogal onwerklik gevoel. Ek het nie geweet watter emosie om te wys nie."

‘n Goue medalje, ’n persoonlike beste van 80,50 meter en die wêreld aan sy voete – Jan-Hendrik Heymans se eerste Wêreldkampioenskappe as SA junioratleet kon kwalik beter verloop het.

Heymans, het Suid-Afrika se enigste goue medalje by die o20-wêreldatletiekkampioenskappe in Oregon, VSA, vanaf 5-9 Augustus, behaal.

Hierdie eerstejaar Meganiese Ingenieurswese-student is nog ’n produk uit afrigter Terseus Liebenberg se spiesgooifabriek, waar yster mekaar slyp.

Om saam met name soos Jo-Ané du Plessis, Righardt Stander en Ewald Jansen omring te word, dwing die 19-jarige om groot te dink en te weet dat die titel van Wêreldkampioen allesbehalwe ’n pypdroom is.

Jan-Hendrik Heymans kan in een van SA se top senior atlete groei na sy fantastiese goue medalje op junior vlak.

Toe hy met sy laaste gooi die 80 m-grens breek en ’n persoonlike beste afstand van 80,50 meter behaal, het dit bewys dat die kalklig op die groot verhoog hom nie pla nie.

“Dit het nogal onwerklik gevoel. Ek het nie geweet watter emosie om te wys nie. Twee weke voor die Wêreldkampioenskappe het ek vermoed dat ek my lies geskeur het. So, ek was onseker hoe ek by die kampioenskappe sou wees. Na die eerste gooi, wat ook my beste openingsgooi was, was ek rustiger,” noem Heymans.

Kyk die video van Heymans se gooi hier:

Voor sy laaste gooi het hy geweet dat hy reeds goud in die sak het – toe gee hy alles en bewys homself en die toeskouers dat hy 80 m kan bereik.

“Ek het al my doelwitte vir die kompetisie bereik, so dit was ’n ongelooflike gevoel. Om te sien hoe al die media en borge my ná die tyd wil betrek, was iets baie nuuts,” noem hy.

Jan-Hendrik Heymans met sy goue medalje.

Heymans se roete in spiesgooi het op ’n vreemde manier begin toe hy as jong krieketspeler krieketballe van die grens af soos missiele na die paaltjies gegooi het. Hy wou Jonty Rhodes se voorbeeld volg en kyk of hy van die grens af ook kolwers met direkte gooie kon uithardloop.

“My ma het voorgestel dat ek spiesgooi moet probeer, maar dit was regtig nie ’n sport op laerskool nie. Een van my goeie vriende, Marco Barnard, se pa, Corné, het ook twee spiese gehad en toe het ons net die basiese geleer en gesê ons moet dit probeer.”

Heymans het werklik begin presteer toe hy in Graad 9 met sy hoërskoolafrigter by Helpmekaar, Hennis de Wet, paaie gekruis het. De Wet het ook afrigting by Terseus Liebenberg gekry en spog self met ’n 81,02 m-rekord.

Hierdie jong atleet het ook afrigting van Wilhelm Pauer ontvang, wat ook ’n afstand van 81,60 meter as Springbokatleet gegooi het. Pauer kom ook onder die vlerk van Liebenberg. Beide De Wet en Pauer se bydrae het reeds die grondslag gelê.

Jan-Hendrik Heymans saam met Ashish Yadav (Indië) en Addison James (Dominkaanse Republiek) op die podium.

Nou is Heymans ook onder die afrigting van Liebenberg, wat ’n groot en blink toekoms vir hierdie 19-jarige voorspel.

“Dit gaan daaroor om die regte goed reg te doen. Hy is ’n ongelooflike talent wat nou ’n wêreldklas senioratleet moet word. Dit is ’n reis en nie ’n bestemming nie. Een aspek wat vir my van Jan-Hendrik uitstaan, is dat hy glo dat hy kan wen en dat hy sy emosies kan beheer.”

Liebenberg noem ook dat hy op Heymans se tegniek, spoed en krag gefokus het om die balans met spesifieke programme reg te kry.

“Rouan Knoesen (biokinetikus) en Anita van der Lingen (fisioterapeut) was absoluut ongelooflik om hom gereed te kry vir die kampioenskappe. Sy sukses is regtig ’n spanpoging,” voer Liebenberg verder.

Heymans is dit eens dat Liebenberg se gimnasiumprogram en jare se ervaring hom na die volgende vlak geneem het.

“Oom Terseus se jare se ervaring met die item het hom in staat gestel om ’n goeie program te skryf en vir my die beste kans moontlik te gee. Sonder hom sou ek nie kon bereik wat ek bereik het nie.”

Heymans se doelwitte is om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en ook spiesgooi oor die algemeen as ’n sport te bevorder.

“Ek wil na lande toe gaan wat interessante tradisies rondom spiesgooi het. In Finland, as jy hulle een kompetisierekord breek, kan jy glo ’n klein eiland in die middel van ’n meer wen. Ek sal dit byvoorbeeld wil omskep in ’n lekker plek waar spiesgooiers kan kom ontspan en sosialiseer. My grootste doelwit is net om vir mense te wys dat spiesgooi ’n baie lekker sport is waar ’n gemeenskap vir mekaar omgee en in mekaar se sukses deel.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button