Graad 2-juffrou se verjaarsdagtradisie maak PAWS Haven se diereharte bly
Vir die vyfde jaar in 'n ry vier Juffrou Marina de Beer, 'n graad 2 onderwyser van Laerskool Baillie Park, haar verjaarsdag met 'n spesiale PAWS Haven-projek.
Hierdie afgelope week het ’n Graad 2-juffrou by Laerskool Baillie Park, Marina de Beer, haar verjaarsdagtradisie voortgesit waar sy kos en ander benodigdhede vir diere by PAWS Haven insamel.
Haar verjaarsdaggeskenk is om haar leerders te inspireer en te sien hoe hulle op haar verjaarsdag vir haar hondekos en ander donasies bring, sodat sy daarmee die diere van PAWS Haven kan seën.
PAWS Haven se Tokkie Aucamp het ook die skool besoek met ’n spesiale hondekind wat kom inloer het en persoonlik vir Marina kom gelukwens het.

“Ek doen hierdie insameling nou al vir vyf jaar. Hondjies lê ongelooflik na aan my hart. Ek glo die Here het my hart so gemaak om ’n baie groot liefde vir diere te hê. Ek wens gereeld ek kon al die hondjies in die wêreld red. Ek weet ek kan nie, maar ek kan ten minste probeer om ’n verskil in my eie dorp te maak, al is dit net om ’n paar honger magies vol te help maak,” noem Marina.
Haar verbintenis met PAWS Haven strek verder, met die feit dat sy ook twee honde by hierdie skuiling aangeneem het.
“Hulle bring soveel vreugde en liefde in ons huis. Hulle verlede was dalk nie altyd mooi nie, maar hulle leef met die dankbaarste hartjies en gee elke dag onvoorwaardelike liefde.”



Marina vertel dat sy haar Graad 2-klasse jaar na jaar bewus maak daarvan om vir diere om te sien en diere in nood te help.
“Daar is soveel hondjies wat net wag vir ’n tweede kans en ’n liefdevolle huis. Daarom probeer ek ook om my leerders van kleins af bewus te maak daarvan dat ons diere moet liefhê, versorg en respekteer. Ek glo dat as ons daardie liefde en verantwoordelikheid reeds by kinders kweek, hulle eendag ook ’n verskil sal wil maak. Ons moet dié help wat nie vir hulself kan help nie.”

Volgens Marina is hierdie projek ’n spanpoging van die leerders in haar klas en hul ouers, sowel as haar familie wat bydra, en die skool wat dit elke jaar ’n realiteit maak.
“Ek beplan om hierdie insameling elke jaar met my verjaarsdag voort te sit, vir solank as wat dit vir my moontlik is. Vir my is daar min verjaarsdaggeskenke wat kan vergelyk met die wete dat ons saam ’n verskil gemaak het en dat ’n paar hondjie- en katjiemagies daardie aand lekker vol kan wees.”
Marina moedig ook die algemene publiek aan om PAWS Haven te besoek.
“Jy hoef nie noodwendig ’n hondjie aan te neem om ’n verskil te maak nie. Gaan stap ’n bietjie met die hondjies, vat vir hulle ’n paar lekkernye, gaan help om die lyfies te bad of vra waar jy ’n handjie kan bysit. Selfs die kleinste gebaar kan vir ’n dier baie beteken.”



