Vergeet-My-Nie saal die regte perd op met Sêr-oorwinnning
VMN is die algehele en dameswenners van 2026 Sêr met Veritas wat as die manswenners aangewys is.
Vir 17 minute het Vergeet-My-Nie Dameskoshuis die gehoor by die Sêr Top 10-finaal in vervoering gehad met hul perderuitertema.
Nie net was hul kostuums netjies nie, maar hul vertoning was uit die boonste rakke, met elegansie en glans wat hulle die titel van algehele 2026 Sêr-kampioen van die NWU Potchefstroomkampus besorg het. Vergeet-My-Nie het sodoende hul titel as die verdedigende Dameskoshuiskampioen behou.

Veritas Manskoshuis is as die manskoshuis-wenners aangewys vir ’n uitsonderlike vertoning in hul “Fallout”-blou en geel-uitrustings. Fallout is ’n videospeletjie wat op ’n post-apokaliptiese wêreld fokus, waar mense in ’n skuiling vasgevang is in ’n geveg om te oorleef. Hierdie temas is uitstekend in hul vertoning geïnkorporeer, met verwerkings van Ek Skyn (Heilig), Grenade, sowel as ’n uitsonderlike eie komposisie, “Mis Jy Die Son?”


VMN het die Equestrian-tema uitgebeeld met uitstekende verwerkings van Old Town Road, Born to be Wild en Here I Am.
“Dit was ’n tema waaroor ons as Sêr einde laas jaar besluit het. Die rede daarvoor was dat ons graag weer ’n tema wou hê wat statig en netjies op die verhoog vertoon, terwyl ons ikoniese liedjies soos Kinders van die Wind kan sing wat by die tema aansluit. Ons het ook die karwats (lat) vir perkussie in ons vertoning gebruik, wat tot die tema bygedra het,” noem Chanelle Smith, primaria van VMN.
Smith vertel verder dat wen nie die grootste doelwit was nie, maar om ’n vertoning te lewer wat mense diep sou tref.
“Ons doel was om ’n vertoning op te sit wat mense se harte raak en iets te doen waaroor mense oor 10 jaar steeds sal praat,” noem Smith.
VMN het baie risiko’s geneem wat ongewoon is, soos om ’n operastuk by hul voorgeskrewe medley in te sluit.
Foto’s: Tian du Preez



“Vir ons as Sêr het dit ná die finaal se optrede al vir ons soos ’n wen gevoel, want ons het ons alles op die verhoog gelos. Die uitslae was bloot ’n bonus. Dit beteken natuurlik vir ons die wêreld, en dit was so lekker om te wen, veral omdat Sêr maande se oefening verg.”
Die beoordelaars kon natuurlik nie ’n gegewe perd in die bek kyk nie en kon nie nader as om die titel aan VMN toe te ken nie.
Volgens Smith is Sêr ’n groot spanpoging waar almal hul eie talente na vore bring.
“Ons gee alle eer aan die Here wat elke meisie in ons Sêr met gawes en talente geseën het. Sonder Hom was niks hiervan moontlik nie.”
“Om deel te wees van so ’n besonderse groep kan ’n mens nie in woorde sit nie. Die band wat ons gevorm het en die herinneringe is iets wat ek vir altyd sal koester.”
Kyk die vertonings hier:



