Local newsNewsSport

Vrouerugby by Potch Dorp is ‘n tweede tuiste

Tien jaar gelede was Louise een van die spelers wat die vrouerugbyspan van Potch Dorp Rugbyklub help begin het.

Vir Louise Venter (30) is rugby veel meer as net ’n sport. Dit is ’n plek waar vroue hulself kan uitleef, nuwe vriendskappe kan bou, vir ’n oomblik van hul probleme kan vergeet en terselfdertyd op die rugbyveld kan wys waartoe hulle in staat is.

Louise, wat in Potchefstroom gebore en getoë is, was ’n leerder aan Laerskool Mooirivier en Hoër Volkskool. Sy werk tans by Mooirivier Mediese Fonds en doen ook bemarking vir verskeie besighede.

Buite haar werk is dit egter rugby wat ’n groot deel van haar lewe uitmaak.

Tien jaar gelede was Louise een van die spelers wat die vrouerugbyspan van Potch Dorp Rugbyklub help begin het. Sy was een van die span se eerste spelers en is een van slegs twee van daardie oorspronklike groep wat steeds betrokke is.

Hoewel sy vir ’n tyd lank die span verlaat het, het sy verlede jaar weer haar plek op die veld ingeneem. Vandag dra sy nie net die span se kleure as speler nie, maar dien sy ook as bemarkingsbestuurder. Haar harde werk en toewyding is vanjaar beloon toe sy as Potch Dorp se Voorspeler van die Jaar 2026 aangewys is.

Volgens Louise het die vrouerugbyspan aanvanklik bloot ontstaan omdat hulle die sport wou geniet en die sosiale aspek daarvan waardeer het. Niemand kon egter voorspel hoe ver dit sou groei nie.

“Ons het dit aanvanklik vir die pret en die sosiale aspek begin, maar dit het baie goed uitgedraai en die span het begin om regtig goed te doen,” vertel sy.

In die beginjare was een van die grootste uitdagings om teenstanders te kry. Daar was eenvoudig nie genoeg vrouerugbyklubs in die omgewing nie. Die sport het egter oor die jare gegroei en daar is tans sewe klubs wat meeding.

En Potch Dorp het beslis hul stempel afgedruk.

Die span het verlede jaar die Carien Broodryk-liga gewen en vanjaar tweede geëindig. Hulle was die afgelope vyf jaar onoorwonne en is verlede jaar as die tweede beste vrouerugbyspan in die land aangewys. Boonop word daar steeds jaarliks Springbokspelers uit die klub opgeroep.

“Die vroue floreer en speel regtig goed,” sê Louise.

Maar agter die sukses lê ook ’n harde werklikheid. Volgens Louise kry vrouerugby steeds nie naastenby die fokus of ondersteuning wat dit verdien nie.

Potch Dorp se vrouespan het tans geen vaste borge nie. Die spelers moet self borge probeer bekom of baie van die uitgawes uit hul eie sak betaal. Vervoer, toerusting en ander kostes word dikwels deur die spelers self gedra.

“Party spelers het nie eers tokse nie,” sê Louise.

Tog keer dit hulle nie.

Vir baie van die spelers is rugby veel meer as net ’n Saterdagmiddag op die veld. Dit bied ’n broodnodige ontsnapping van die uitdagings van die alledaagse lewe.

“Baie spelers speel rugby om uit hulle huislike omstandighede te kom. Die rugby laat jou vir ’n oomblik van jou omstandighede vergeet.”

Vir Louise self is dit presies wat die sport beteken.

Sy speel omdat dit haar laat ontspan en haar help om vir ’n rukkie van haar eie probleme en bekommernisse weg te breek. Maar hoewel rugby vir haar ’n vorm van ontvlugting is, bring wedstryddae beslis hul eie spanning mee.

“Die stresvlakke en adrenalien voor ’n wedstryd is nogal rof,” lag sy.

En as dit by verloor kom, erken Louise sommer eerlik dat sy nie die maklikste verloorder is nie.

“Ek is ’n slegte verloorder,” sê sy.

Gelukkig het die span ’n afrigter wat weet hoe om daardie vuur in iets positiefs te omskep. Jackie Kriel, wat self deel van die Springboksewespan was, herinner die spelers voortdurend daaraan om uit elke wedstryd te leer en aan te hou verbeter.

Nou lê daar alweer ’n nuwe uitdaging voor.

Potch Dorp begin hierdie week met voorbereiding vir die Club Champs, waar hulle hulself teen van die beste spanne in die land gaan toets.

En Louise wil hê meer vroue moet deel word van die reis.

Enigiemand wat nog altyd rugby wou probeer, maar dalk gedink het hulle is nie goed genoeg of ervare genoeg nie, word uitgenooi om by die span aan te sluit.

“Ons leer van die basiese beginsels af. Almal is welkom.”

Oefeninge vind elke Dinsdag en Donderdag om 18:00 by Potch Dorp se rugbyveld plaas.

Want vrouerugby gaan nie meer stilweg weg nie. Dit groei, dit ontwikkel en dit skep ’n plek waar vroue nie net kan rugby speel nie, maar ook kan groei, asemhaal, vriendskappe bou en hulself bewys.

En miskien is dit tyd dat die res van ons begin raaksien wat Louise en haar span reeds lankal weet: vrouerugby verdien ’n plek in die kollig.

Kyk na die video hier:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button