Local newsNewsNews

Lesersbrief: Nuwe Akademia kampus en Afrikaans – doodkry is min

"Akademia bewys vir ons dat alhoewel Afrikaans vir langer as 'n eeu reeds onder beleg is, die taal altyd sal oorleef...doodkry is min."

Izak Smalman skryf:

Die eertydse minister van vele portefeuljes in die ANC regering, Naledi Pandor, is sielsongelukkig oor die nuwe kampus van Akademia op die Mooiplaats terrein digby Pretoria. Die nuwe universiteit maak voorsiening vir duisende studente asook akkommodasie in vier koshuise op die terrein. Pandor word gesteun deur die akademikus, professor Jonathan Jansen, asook Carl Niehaus van die EFF. Hierdie drie beswaarmakers se klagtes is dat Akademia rassediskriminasie en isolasie gaan aanmoedig, en weer eens word die Afrikaner daarvan beskuldig dat hy besig is om “laer te trek.”

Pandor het het as destydse minister van Hoër Onderwys, nogal voorspraak gemaak vir moedertaalonderrig (solank daardie moedertaal natuurlik net nie Afrikaans is nie). Jonathan Jansen het die Vrystaatse Universiteit verengels, dieselfde by Stellenbosch gedoen en toe pad gegee na die VSA voordat hy druipstert huiswaarts gekeer het. Jansen was jare gelede in die nuus toe hy ‘n klerk in ‘n Stellenbosch boekwinkel oor die kole gehaal het omdat sy hom in Afrikaans bedien het.  Al wat ek van Carl Niehaus kan sê, is dat hy hom lankal nie meer tussen wit mense tuis voel nie.

Ek kan nie begryp dat slim mense soos Pandor en Jansen persepsies skep wat hulle wil hê die hele wêreld moet glo nie. Akademia gaan nie van ander tale geisoleer wees nie. Inteendeel, Engels gaan as vak tot op die hoogste akademiese vlak aangebied word.

Wat maak Akademia anders as ons ander universiteite?

  • Die universiteit en senaat van Akademia en nie die studente, maak die reëls.
  • Geen “Fees must Fall” nonsens.
  • Geen Kill the Boer op die kampus.
  • Geen sangoma rituele in die koshuise.

Die belangrikste: Toelating geskied op meriete en nie op grond van velkleur, geen kwotas volgens velkleur.

Al bogenoemde vereistes kan in een woord saamgevat word: DISSIPLINE. 

In ons land is daar nie so iets soos ‘n Volksmoord soos wat mense soms verkondig, wel verkragting en moord op Afrikaans as taal. Ek gee kortliks die verloop van die aanslag op Afrikaans : Dit het begin by lord Milner na die Anglo Boere Oorlog, tydens Uniewording in 1910, deur die depressie jare toe Afrikaanssprekende kinders die Donkie plakkaat op die skoolterrein moes dra, tydens die 1976  Onluste toe Afrikaans in plaas van die vorige regering geteiken is, en uiteindelik met die bewindoorname deur die ANC in 1994 waarna Afrikaans as taal in staatsdepartemente en die howe uitgeskuif is.

Akademia bewys vir ons dat alhoewel Afrikaans vir langer as ‘n eeu reeds onder beleg is, die taal altyd sal oorleef…doodkry is min! My siening is steeds dat ek alle tale en hulle sprekers respekteer, ek het baie vrinne en vrindinne wat Engels praat en waar ek kan, praat ek Setswana.

*Menings en opinies in lesersbriewe is dié van die skrywers en weerspieël nie noodwendig die standpunt van die Potchefstroom Herald nie. Die redaksie behou die reg om briewe te redigeer en te plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button