17 mammas, 17 babas en ’n bietjie meer hoop
Die Vat Verniet Tafel Babaprojek het nou amptelik tot ’n einde gekom en 17 nuwe mammas en hul 17 babatjies gaan danksy die ongelooflike ondersteuning van die gemeenskap ’n bietjie ekstra hulp ontvang.
Wat as ’n klein poging begin het om ’n paar mammas en babas in nood te help, het uiteindelik veel groter geword as wat enigiemand kon verwag.
Die Vat Verniet Tafel Babaprojek het nou amptelik tot ’n einde gekom en 17 nuwe mammas en hul 17 babatjies gaan danksy die ongelooflike ondersteuning van die gemeenskap ’n bietjie ekstra hulp ontvang.
Die aflewering van die babasakke begin vandeesweek, met elke mamma wat ’n sak vol noodsaaklike baba-items ontvang om die eerste maande met haar kleinding net ’n bietjie makliker te maak.
Volgens Angelique Lottering, stigter van die Vat Verniet Tafel, was die doel nooit om bloot vir elke mamma presies dieselfde pakkie te gee nie, maar eerder om seker te maak dat elkeen iets ontvang wat sy en haar baba werklik nodig het.

“Die doel was nie om vir elke mamma presies dieselfde sak te gee nie, maar om vir elkeen iets te gee wat werklik nodig is en haar te laat weet dat sy en haar baba nie alleen is nie,” sê Lottering.
Die meeste van die mammas het soortgelyke basiese behoeftes gehad, en daarom het die sakke grootliks dieselfde noodsaaklikhede bevat. Waar daar egter spesifieke behoeftes was, is daar probeer om dit sover moontlik in ag te neem.
Sommige mammas het byvoorbeeld ekstra hulp met groter baba-items soos ’n kot, karstoeltjie of stootwaentjie nodig gehad.
Die sakke het onder meer baba-klere, kombersies, meer as 50 doeke per mamma, Vaseline en ander salfies, baba-olie en badprodukte, tietiebottels, dummies, speelgoed, spoegdoeke en ander higiëneprodukte bevat.
En daar is ook aan die mammas self gedink, met produkte wat spesifiek vir hulle ingesluit is.
Want agter elke babatjie staan ’n mamma wat ook ondersteuning nodig het.

’n Gemeenskap wat hande vat
So ’n projek kan natuurlik nie deur een persoon alleen aangepak word nie. Van pakkies wat van ander dele van die land af gestuur is, tot Pudo-bokse wat volgepak is en mense wat self sakke kom afgee het. Die gemeenskap het behoorlik hande gevat.
Christine het selfs ’n besonderse pakkie van so ver as die Kaap gestuur, terwyl plaaslike staatmakers soos Aquilla van Q Sorg, Micha en haar ouers en die span van Deans Decor telkens gehelp het waar hulle kon.
Die Potchefstroom Herald en The Go-To Guy het ook gehelp om die boodskap te versprei en meer mense bewus te maak van die projek.
Of iemand nou ’n enkele pakkie doeke, ’n kledingstuk, bottel, kombersie, geldelike bydrae of ’n volledige sak geskenk het, elke bydrae het gehelp.
“Ons wil regtig vir elke persoon en besigheid wat op enige manier gehelp het, baie dankie sê. Elke enkele bydrae het ’n verskil gemaak,” sê Lottering.
Die Babaprojek het dalk nou sy laaste hoofstuk bereik, maar die impak daarvan gaan veel langer as die projek self voortleef.
En vir die Vat Verniet Tafel beteken die einde van hierdie projek bloot dat die volgende een kan begin.
Die fokus skuif nou na die skryfbehoefteprojek, waarmee daar weer eens probeer gaan word om ’n tasbare verskil in die lewens van kinders en hul gesinne te maak.
Want in Potchefstroom het hierdie projek weereens gewys, wanneer ’n gemeenskap besluit om saam te staan, kan selfs die kleinste bydrae iets baie groter word.



