Fanie Viljoen kuier by Baillies
Die leerlinge het natuurlik behoorlik gewys dat hulle hul gunstelingkarakters van hierdie bekroon skrywer ken.
Fanie Viljoen het op Donderdag, 27 Augustus, vir ’n besondere besoek aan Laerskool Baillie Park in Potchefstroom gesorg toe die bekroonde Afrikaanse skrywer en kunstenaar van Bloemfontein die skool se leerlinge kom ontmoet het.
Die grondslagfaseleerlinge het die geleentheid gekry om met Fanie oor sy nuwe boeke, maar ook oor ’n paar ou bekendes, te gesels. Die leerlinge het natuurlik behoorlik gewys dat hulle hul gunstelingkarakters ken en kon al sy vrae oor die avonture van Ouma Mollie van Seeperdjiebaai beantwoord.
Aanhangers van Ouma Mollie kan uitsien na nog ’n avontuur wanneer die vierde boek in die reeks, Ouma Mollie op die plaas, in November verskyn.
Fanie se besoek kom kort nadat hy vroeër in Augustus as die wenner van die National Arts Council Awards in die afdeling Uitsonderlike Kinderfiksie aangewys is vir sy boek Die beste sussie vir ’n babadraak.
Dit was egter nie net die jonger leerlinge wat die kans gekry het om die bekende skrywer te ontmoet nie. Die seniorfaseleerlinge het ook hulle beurt gehad om met Fanie te kuier en meer oor sy skryfwerk te hoor.
Sy boek Die seun met die swaeltjie is onlangs as Lapa se Jeugroman van 2025 aangewys, terwyl Ons laaste legendariese Somer en Die seun met die swaeltjie meer op die ouer lesers gerig is.
Volgens Fanie is idees vir stories oral om ons, ’n mens moet dit net raaksien.
Soms kan ’n idee selfs in ’n winkelsentrum of in ’n koerantberig opgeduik word. Ander kere is dit bloot iets vreemds wat iemand sê wat die vonk vir ’n hele nuwe storie word.
Vir Fanie is dit besonder lekker om vir kinders te skryf, juis omdat daar volgens hom geen einde aan ’n kind se verbeelding is nie. Om kinderboeke te skryf, gee hom ook die geleentheid om weer die kind binne homself te ontdek.
Die besoek was nie net ’n geleentheid vir die leerlinge om vrae te vra en na die skrywer se stories te luister nie. Fanie het ook tyd gemaak om die kinders se boeke te teken en natuurlik ’n paar foto’s saam met sy jong lesers te neem.
Dit was ’n besonderse oggend waarin boeke, stories en verbeelding by Baillies bymekaargekom het en wie weet, dalk het Fanie se besoek ’n toekomstige jong skrywer geïnspireer om self eendag ’n boek te skryf.



