Chubby Chick-verdagte weer in hof ná gesondheidsprobleme
Robert Joubert, wat ook met kanker gediagnoseer is en die afgelope tyd mediese behandeling ontvang het, het egter steeds ’n kateter in gehad.
Robert Joubert (75), wat aangekla word van die moord op die Potchefstroomse sakemanne Jonathan (52) en Deon (55) Fourie, het Woensdag, 2 September, weer in die streekhof in Potchefstroom verskyn.
Joubert se gesondheid blyk intussen merkbaar verbeter te wees. Hy het sterker en meer positief voorgekom as tydens sy vorige hofverskynings, terwyl die groot groeisel aan sy gesig wat voorheen duidelik sigbaar was, aansienlik verbeter het.
Joubert, wat ook met kanker gediagnoseer is en die afgelope tyd mediese behandeling ontvang het, het egter steeds ’n kateter in gehad.
Hy word daarvan aangekla dat hy Jonathan en Deon Fourie, direkteure van die hoenderonderneming Chubby Chick in Potchefstroom, op 10 November verlede jaar in die raadsaal van die onderneming se kantore geskiet het.
Die hof het vroeër ook gehoor dat Claire Hearne, ’n kliniese sielkundige, vir Joubert deur geëvalueer het. Hearne het in Mei getuig dat Joubert psigoties is en aan vervolgingswaansin en waanbeelde ly.
Joubert se regspan het voorheen aangevoer dat hy vir sielkundige waarneming verwys moet word.
Die 75-jarige se saak is Woensdag verder uitgestel en sal nou op 6 Oktober in die streekhof in Potchefstroom voortgaan.



