Die NWU gaan nou eerskomende Sondag, 6 September teen nog ‘n Bloemfonteinse span te staan kom wanneer hul kragte met CUT gaan meet.
Die NWU is vars van hul sege teen Kovsies die afgelope Maandag wat hul met 50-48 gewen het. CUT sal nie die gunsteling wees nie, maar sal hul beste voetjie wil neersit teen die verdedigende kampioene.
Volgens NWU-hoofafrigter Elsunet du Plessis is die span verheug oor die wen teen Kovsies en weet hulle dat daar steeds harde werk voorlê.
“Ná die teleurstelling teen UJ was dit belangrik om sterk terug te kom, en ek is trots op hoe die span saamgestaan en vir mekaar gespeel het. Teen CUT wil ons daarop fokus om voort te bou op die konneksie wat die span tydens die Kovsies-wedstryd gewys het, maar ook om meer konsekwent te wees en ons eie standaarde te lig,” noem sy.
Die NWU speel teen CUT by Wits in Johannesburg om 17:00. Daarna volg ‘n wedstryd teen Wits op 13 September.



