Polisie soek verdagte ná beweerde huisroof en verkragting
Die verdagte het glo geld van die vrou geëis en haar aangerand voordat hy haar na bewering verkrag het.
Die polisie in Potchefstroom doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om ’n verdagte wat in verband met ’n beweerde huisroof en verkragting gesoek word, te identifiseer en op te spoor.
Die polisie het Vrydag, 4 September, ’n identikit-skets van die verdagte beskikbaar gestel nadat die voorval in die vroeë oggendure van Sondag, 30 Augustus, by ’n woning in Potchefstroom plaasgevind het.
’n 52-jarige vrou is na bewering in haar nuwe woning aangeval nadat ’n onbekende man glo deur ’n gebreekte venster toegang tot die huis verkry het.
Die verdagte het glo geld van die vrou geëis en haar aangerand voordat hy haar na bewering verkrag het. Hy het daarna met haar selfoon, handsak en sleutels op die vlug geslaan.
Die vrou is later buite die eiendom deur ’n buurman en lede van die buurtwag aangetref nadat hulle haar hulpkrete gehoor het.
Volgens die polisie word ’n saak van huisroof en verkragting ondersoek en is die verdagte steeds op vrye voet.
Die verdagte word beskryf as ’n lang, swart man tussen 20 en 30 jaar oud met donker oë. Hy het donker dreadlocks bo-op sy kop, terwyl die hare aan die kante kort gesny is. Hy het glo Engels gepraat.
Die polisie versoek enigiemand wat die man herken of oor inligting beskik wat kan help om hom te identifiseer en op te spoor, om luitenant-kolonel Gert Bruwer, waarnemende takbevelvoerder by Potchefstroom-speurders, by 082 578 4311 te kontak.
Inligting kan ook by die naaste polisiestasie aangemeld word. Anonieme wenke kan aan Crime Stop by 08600 10111 of deur die MySAPS-toepassing gestuur word.



