Volkie haal top 20 van nasionale “Maak my ’n Miljoenêr”-kompetisie
Een van die uitdagings tydens die uitdunne wat Heinrich Fouché moes aanpak was om ’n sosialemediaveldtog vir ’n ATKV-oord te ontwikkel.
Hoër Volkskool Potchefstroom se Heinrich Fouché is die enigste Potchefstroomse leerder wat ’n verteenwoordiger in die landswye Top 20 van die “Maak my ’n Miljoenêr”-kompetisie is, nadat hy weer eens met sy besigheidsvaardighede beïndruk het.
Die Herald het vanjaar berig dat Heinrich en sy goeie vriend, Renier Barnard, tot die Top 30 met hul MiTutor-projek deurgedring het. Aangesien Renier tydens die skoolvakansie saam met sy ouers oorsee was, moet Heinrich MiTutor gedurende hierdie rondtes verteenwoordig.
Volgens die kompetisiereëls mag Heinrich alleenlik vir MiTutor in die kompetisie verteenwoordig, aangesien Renier nie aan die Top 30-uitdagingsrondes kon deelneem nie.

“Dit verander egter niks aan ons vennootskap nie – Renier en ek gaan steeds saam voort met MiTutor. Vir die doeleindes van die kompetisie sal ek bloot voortaan ons besigheid alleen verteenwoordig.”
Hul konsep is om ’n aanlyn tutorplatform te skep wat uit video’s, opsommings en addisionele oefenvrae bestaan. Om die aanbieding professioneel te maak, word die kursusse deur Udemy aangebied.
Heinrich vertel dat die eerste deel van die uitdagings by ATKV Buffelspoort gedurende die wintervakansie in Julie plaasgevind het.
“Een van die uitdagings was om ’n sosialemediaveldtog vir ’n ATKV-oord te ontwikkel. Die deelnemers is in groepe verdeel en elke groep moes een van die ATKV-oorde bemark. Ons het ook ’n uitdaging vir MOS se skoolinisiatief voltooi,” vertel Heinrich.
Daarna het Heinrich na die Wes-Kaap gevlieg, waar hy vir ongeveer twee dae by ATKV Goudini Spa gebly het.
“Hier het ons onder andere aan ’n Amazing Race-uitdaging deelgeneem. Die laaste uitdaging het by Akademia se Paarl-kampus plaasgevind,” noem hy.
Die finale geleentheid vind op 13 Oktober plaas, waar die Top 10 aangekondig sal word, asook uiteindelik die wenners in die eerste, tweede en derde plek.



