Local newsNewsNews

Ek is Nie Danie: ’n sensoriese verhouding tussen digkuns en musiek

Albert Pretorius dra Danie Marais se sterk outobiografiese gedigte op die hart onder die musikale begeleiding van Schalk Joubert in 'n hoogs sensoriese vertolking.

Danie Marais se digkuns het ’n magnetiese krag om verskillende emosies vanuit jou diepste wese na die voorgrond te trek. Meng hierdie rou en egte woorde met ’n rockmusiek-klankbaan en jy kry Ek is Nie Danie – een van Momentum Aardklop se eerlikste en kwesbaarste produksies.

Ek is Nie Danie bring lewe aan Marais se digkuns, wat uit vier bundels oor 18 jaar bestaan. Dit sluit gedigte uit sy debuutbundel, In die Buitenste Ruim, tot en met sy nuutste bundel, Ek en jy bestaan nie, in.

Albert Pretorius dra Marais se sterk outobiografiese gedigte op die hart en lewer ’n meesterlike vertoning onder die musikale begeleiding van die musikant en multi-instrumentalis, Schalk Joubert en regie van Nico Scheepers.

Pretorius is onverskrokke in die manier waarop hy digkuns in stories aanmekaarskakel, een hoofstuk na die ander, en die verhale lewe gee. Verskillende tydperke en ervarings wat Marais in ink uitbeeld, word op die verhoog geverf. Pretorius as kunstenaar het vrye teuels en hy gebruik alles om elke laaste stukkie sap uit die woorde te druk.

Ek Is Nie Danie beeld Danie Marais se ouevre uitstekend uit. Albert Pretorius bring woorde na lewe saam met Schalk Joubert wat met verskeie instrumente begelei. Foto’s: Gys Loubser

Die musiek is ’n absolute sensoriese ervaring waar verskillende effektepedale en byklanke, met ’n rits instrumente soos baskitaar, elektriese en akoestiese kitaar, die stemming van elke woord uit Pretorius se mond komplimenteer. Joubert is presies en bring klanke na vore wat die kyker na die woorde toe lei.  Dis asof die note, melodieë en wanklanke ’n mens laat herkou aan Pretorius se verbale vuishoue.

Alles hier is fyn en noukeurig beplan. Die tempo en volume van Pretorius se woorde, die beligting, rekwisiete en nie-verbale tekens, soos wanneer hy sy baadjie agter sy kop optrek en dit later uittrek, dra alles tot die ervaring by. Die kersie op die koek is hoe Pretorius self ook musiekinstrumente in sy voordrag inkorporeer. ’n Voorbeeld hiervan is waar hy ’n staaltongdrom ritmies tik en, soos die emosies verhef word, die musikale benoudheid al meer toeneem. Die intensiteit van die vertolking kan egter soms ’n spanningsvolle atmosfeer skep wat vir kykers ongemaklik eerlik kan wees.

Die gedigte word lewendig vanuit die ink na die verhoog gebring en prikkel al die sintuie. Die opvoering dwing die kyker om alles in te span – woorde gaan op en af soos ’n wipwarit, terwyl Marais se verskeie ervarings in sy digkuns versinnebeeld word.

Verhale wat deur Marais se digkuns vertel word, sluit sy ontmoeting met ’n Duitse vrou en sy daaropvolgende lewe in Duitsland vanuit ’n eg Afrikaanse oogpunt in. Die verbrokkeling van ’n huwelik, terugkeer na Suid-Afrika, ouerskap, die terminale aard van gebroke liefde en hoe alles kan verander, word deur hierdie gedigte ontgin.

Die broosheid van identiteit – en wat dit beteken om ’n middeljarige wit Afrikaanse man te wees – word ook ondersoek. Wie is Danie nou eintlik?

.Wanneer Pretorius herhaaldelik uitskree, “Ek is nie Danie nie,” is daar ’n tikkie vereenselwiging met Marais wat jou laat wonder – het ons nie almal al die stukkende wêreld beleef nie?

Ek is Nie Danie gaan nie net oor wie Danie Marais is nie, maar oor die dele van onsself wat ons soms in ander mense se woorde herken.

Met: Albert Pretorius en Schalk Joubert
Teks: Danie Marais
Regie, stel- en beligtingsontwerp: Nico Scheepers
Klankbaan: Schalk Joubert
Konsep: Niel van Deventer

Daar is nog een vertoning vanoggend (Vrydag, 2 Oktober) om 09:30 in die Totiussaal op die NWU Potchefstroomkampus

Kaartjies (Beskikbaar aanlyn by SeatMe.co.za)

R230 (vooraf)
R250 (by die deur)
R210 (Hartsvriende, pensioenarisse)
R150 (Studente)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button