‘Ek kry skaam vir ons dorp’
Ek hoor dat Potchefsroom ook ingeskryf is vir die Dorp van die Jaar. Ek kon dit nie glo nie. Dis onmoontlik, dit kan tog nie! As ‘n mens van Carletonville se kant af in die ou Van der Hoffweg inkom, is daar een slaggat na die ander tot in VonWiellighstraat. Dis ‘n skande. Langs dieselfde …

Ek hoor dat Potchefsroom ook ingeskryf is vir die Dorp van die Jaar. Ek kon dit nie glo nie. Dis onmoontlik, dit kan tog nie! As ‘n mens van Carletonville se kant af in die ou Van der Hoffweg inkom, is daar een slaggat na die ander tot in VonWiellighstraat. Dis ‘n skande. Langs dieselfde pad lê sakke wat al vanaf Vrydagoggend daar lê tot hulle dit Maandag kom laai. Voor die teologiese gebou van die Gereformeerde Kerk word klomp sakke (en ek neem aan dit is papiere, want daar word nooit daarin gekrap nie), vanaf Vrydagmiddag vir die hele naweek daar neergesit. Net ‘n entjie vorentoe is daar ook sakke, maar dié word oopgemaak deur mense wat honger is en hulle laat dit alles net so lê. Kan die inwoners dit dan nie sien nie of is hulle weg vir die naweek? Die wind waai die papiere tot wie weet waar.
Op die hoofweg van Johannesburg af is daar gate en gate en gate. Wat ‘n klug! Die eilande word nie geverf nie en slote word gegrawe.
Die ergste nog is die bourommel wat weke voor ‘n huis bly lê of takke en sakke vol tuinvullis wat ook daar lê en muf en kleintjies kry!!! A nee a mense, die munisipaliteit het lyk my nie ore nie, of nie arbeiders nie of nie geld om dit te doen nie. Ek weet ons betaal belasting, maar kan ons nie maar ons eie rommel voor ons huise optel nie? As ons net voor ons eie huis skoonmaak en die gras sny en rommel optel, sal dit al beter lyk.
Ek dink ons moet maar liewer onttrek aan die kompetisie. Dit sal nie werk nie. Oral word slote gegrawe en nes die ander klaar is word daar weer oopgemaak vir iets anders. Kan die mense nie saamwerk en een groot sloot grawe en alles gelyk doen nie? As ek reg hoor is daar nie meer ‘n stadsingenieur nie. Kan dit waar wees? Potchefstroom wat eens ‘n pragtige geskiedkundige dorp was, word nou stadig maar seker ‘n tweedehandse vuil dorpie. Wat het van ons mooi Akkerdorp geword? In die ou Tomstraat gaan die bome dood en die geboue verrys soos dooies uit grafte. Praat nie eers van die vreeslike toestand van ons informele nedersettings wat ook in ‘n erge toestand is. Skaam julle!!
Kom ons staan op as dorp en begin dit skoonmaak en lewe kry. Ek kry skaam as ons mense kom kuier.



