
Ek onthou nog die dae wat ek op ‘n Sondagmiddag na ete op die bank voor die TV kon lê en dut.
Hoewel dit nou net ’n vae herinnering is, onthou ek nog die goeie ou dae. Daai luilekker gevoel van op die bank of bed neerplak met die wete dat niks jou nou gaan pla nie.
Rustig raak jy aan die slaap, wanneer jy wakker word maak jy vir jou ’n toebroodjie met die middag se ‘leftovers’ dan rustig raak om Carte Blanche en die 20:00 fliek te kyk. Dit was die goeie ou dae. Aanvanklik het ek gedink dat Aiden dit nie regtig sou omvergooi nie. Tot redelik onlangs was hy nog lief vir ‘n middagslapie. Deesdae wil hy niks weet om in die middae te slaap nie. Hy hardloop rond en wil net aanhou speel, met die gevolg dat ons nou ook saam met hom wakker is. Een goeie ding wat hieruit gekom het, is dat hy amper ‘uitpass’ in die aand. Maar die ander newe effek hiervan is dat ek en my vrou kort na die fliek ook begin om aan die slaap te raak.
Dit is nie net die middagslapies op ’n Sondag wat weg is nie, dit is die rustigheid as mens van die werk af kom ook.
As ons net tot 15:00 gewerk het, sou dit seker nie so ‘n groot kwessie gewees het nie. Maar ongelukkig is dit nie die geval nie. Wanneer ek en my vrou by die huis kom, is dit kos vir Aiden, bietjie speel, dan bad terwyl my vrou kos maak. Ek het al gehelp met die kos terwyl sy vir Aiden gebad het, maar nadat ons my kos geëet, het sy voorgestel dat ek liewer die badwerk doen.
Na badtyd kan ons ook gou eet. Maar nie in rus en vrede nie, want hoewel Aiden reeds geëet het, dring hy daarop aan om happies uit ons borde te neem. Na ete raak Aiden bietjie meer rustig, voor hy uiteindelik sy bottel vat en bed toe gaan. Teen daardie tyd is ons albei so uitgeput dat ons maar net in die bed gaan klim en dadelik slaap.



