Toe ek Maandagmiddag besluit het om huis toe te gaan om te gaan eet, was ek nie voorbereid vir wat vir my gewag het nie. Ek stop my bromponie in die oprit, en merk op dat die sekuriteitshek van die erf ʼn entjie oop staan – net genoeg vir iemand om daardeur te skuif.
Ek druk die knoppie op die kontrole en die hek gaan heeltemal oop. Net soos ek wou inry, loop daar iemand van die huis se kant af na die hek toe. Hy stop toe hy my sien en glimlag breed.
“Kan ek jou help?” vra ek hom. “Ek is opsoek na verblyf,” antwoord hy. Hy is jonk, jonger as ek. Ek skat hom so tussen 19 en 21, maar ek kan verkeerd wees. Hy is ook nie baie groot nie… ek wonder hoe het hy die hek oop gekry.
“Wat maak jy in ons erf?” vra ek hom, “hoe het jy die hek oop gekry?”
Hy antwoord weer dat hy verblyf soek en ook dat die hek oop was toe hy hier gekom het, toe loop hy sommer in. Daar is ʼn “te koop” bordjie buite die huis, maar dit sou meer sin maak om net die nommer op die bordjie te skakel eerder as om net in ʼn erf in te loop waar daar niemand is nie.
“Nou wat maak jy met die tang in jou hand?” terwyl hy besig was om te verduidelik waarom hy in my erf was, het ek die tang in sy regterhand opgemerk.
“Nee mevrou, ek het die tang by die straat opgetel. Ek wou net kyk of hier nie accommodation is nie. Eks ʼn student, jy weet?”
Ek sien toe vir Keanu, my kêrel, by die klein hekkie. Hy was by my huis nog voor ek daar aangekom het. Nog voor ek hom kon vertel van die ou wat ek in die erf betrap het fluister hy vir my: “Bel die polisie, hy wou by jou kamer inbreek. Ek sal hom besig hou terwyl jy hulle bel – maak gou!” Die skurk het glo met sy tangetjie besig geraak by my kamervenster toe Keanu hom van binne reg in die gesig kyk.
Ek bel toe dadelik vir Mooirivier Beskerming terwyl Keanu maak asof hy geld in die huis gaan haal vir die ou. Ons was bang hy maak homself skaars voor Mooirivier daar aankom. Ek sit die foon neer en kyk hek se kant toe, maar die oortreder is reeds weg.
Ek en Keanu hardloop straat toe en daar loop hy met sy helderrooi baadjie en swart sweetpakbroek, net betyds vir Mooirivier se bakkie om hom langs die pad te stop.
“Dis hy! Dis hy! Skree ek terwyl ek vir die persoon agter die stuurwiel probeer beduie dat die boef reg langs hom staan. Binne minute was drie Mooirivier bakkies op die toneel en die oortreder in boeie. Kort na lank is die polisie ook daar, en meneer wat gedink het hy gaan by my inbreek is agter tralies.
Baie dankie aan Mooirivier Beskerming se span, julle laat ʼn mens net soveel veiliger voel. Dankie ook aan die polisie wat ons so vinnig gehelp het om ons verklarings te maak.



