
Elke keer as ’n kind nuwe woorde begin sê, is dit baie spesiaal.
Wanneer daardie nuwe woord egter op ’n snaakse manier gesê word, word dit ’n tipe party trick wat jou kind voor ander mense moet sê.
Aiden het die naweek so ’n oomblik gehad. Die beroemde woord vir die naweek was broodjie. Die rede waarom dit so belangrik geword het, is omdat Aiden dit nie op die normale manier gesê het nie.
Die begin van die woord was lank en uitgerek, asof hy ‘n motorfiets wil naboots, dan maak hy die res van die woord klaar met ’n vinnige skerp klank, brrrroodjie.
Ek verstaan nie waarom hy besluit het om dit so te sê nie, maar dit het onmiddellik ’n groot reaksie van die ooms, tannies, oumas en oupas tot gevolg gehad. Die gevolg was dat almal hom die res van die naweek aangemoedig het om die woord te sê. Aanvanklik was dit vir hom ’n lekker speletjie wat hy alte graag saamgespeel het. Selfs met die ekstra brrrr om almal nog meer te laat lag.
Soos die naweek aangegaan het, het Aiden al hoe minder belang gestel in die woord. Elke keer as iemand vir hom sê om broodjie te sê, het hy sy, wat nou kenmerkend geword het, kop geskud en gesê “uh-uh”.
Nie alle woorde laat mens lag nie. Die ‘uh-uh’ wat hy ook onlangs begin gebruik het, word nou gebruik vir alles wat hy nie wil doen nie. Die lys van dinge wat hy nie wil doen nie, raak al hoe langer.
“Kom seun ons moet gaan bad, Aiden dit is tyd om te gaan doedoe, laaste happie kossies en dit is te koud, jy kan nie nou buite gaan speel nie,” word beantwoord met ‘uh-uh’.
Die een woord, of eintlik geluid het al meer frustrasie uitgelok as wat in een artikel beskryf kan word. Maar dan volg hy die ‘uh-uh’ op met ’n ‘brrrroodjie’ wat my herinner aan Tony die tier wat beroemd was oor wat hy oor frosted flakes gesê het, ‘They’re grrreat.’



