BlogsOpinions

Kwetter-rondomtalie: Die Prez se gerieflike grondwetlike geheueverlies

Tydens ‘n vraag- en antwoordsessie van die Nasionale Vergadering begin Oktober 2016 weeklaag die President teenoor die Speaker, “Mamma hulle boelie my, al wat ek wil doen is om my grondwetlike plig na te kom en die vrae te antwoord soos wat, ingevolge my grondwetlike verpligtinge van my verwag word. Hulle is lelik met my, want hulle wil my nie ‘n kansie gee nie”.

Hierdie is nie bedoel as ‘n regsopinie, -opleiding en/of –insig, of ‘n politieke ontleding, opinie of outopsie  nie.  Dit is bloot ‘n retoriese spekulasie, met die antwoorde op die vrae, uiteraard net meer vrae.

Tydens ‘n vraag- en antwoordsessie van die Nasionale Vergadering begin Oktober 2016 weeklaag die President teenoor die Speaker, “Mamma hulle boelie my, al wat ek wil doen is om my grondwetlike plig na te kom en die vrae te antwoord soos wat, ingevolge my grondwetlike verpligtinge van my verwag word.  Hulle is lelik met my, want hulle wil my nie ‘n kansie gee nie”.

Ek stik in my koffie, die President wil WAT, want hy het Wat en wanneer het hy dit besef???

Die aan of af van sy onthou, sou dalk nie so ‘n kwessie veroorsaak het nie, indien die liewe President dalk net die moeite gedoen het om reg aan die begin van sy ampstermyn sy sakboekgrootte Grondwet nader te hark en bietjie daardeur te blaai nie.  Hy sou moontlik kon raaklees dat die grondwetlike waardes, naamlik die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg vir alle burgers in gelyke mate geld, ook vir die president van die land (Art 1, Wet 108 van 1996).  Hy sou moontlik kon raaklees dat hierdie oppergesag behels dat enige verpligting wat deur die grondwet opgelê word, nagekom moet word. (Art 2, Wet 108 van 1996) Indien hy nuuskierig was oor wat van hom as president verwag word, sou hy blaai na Art 83(c)  wat duidelik stel dat die President van die land die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek moet handhaaf, verdedig en eerbiedig in die uitvoering van sy bevoegdhede en funksies soos vervat in Art 84.  Twee bladsye verder sou hy moontlik kon opmerk dat Art 96 verwys na ‘n etiese kode vir lede van die Kabinet & Adjunkte en wraggies, daar in Art 96(2)(c) staan dit onomwonde dat geen lid hul posisie of inligting mag gebruik om hulself te verryk of enige ander persoon onbehoorlik te bevoordeel nie en ja, dit geld familie en vriende ook, verál hulle is die ander persone na wie verwys word.  Ten laaste sou hy moontlik dalk vlugtig die moeite kon onderneem om homself net te vergewis presies wat hierdie hoofstuk 9-instellings is en waar hy as President in die prentjie pas.  Ingevolge Art 181 sou hy sien dat, alhoewel die President die ampsdraers aanstel en hulle verplig word om verantwoording te doen teenoor die Nasionale Vergadering, al hierdie instellings ingevolge die Grondwet onafhanklik en onpartydig sal funksioneer en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe sal wees.  Hoeveel keer hy ook al die betrokke artikel of hoofstuk sou deurlees, nêrens sou hy die bepaling kon opspoor wat lees, “met uitsondering van die President nie”….

Ai, as iemand tog maar net die moeite gedoen het om vir die President te sê “verpligting beteken moet, nie soos en wanneer jy lus het, of onthou nie”.  Dalk sou sy grondwetlike stemmetjie dan paraat kon wees en hom gemaan het om nie die Nkandla-debakel so vurig te verdedig en/of te ontken nie en heel moontlik sou hy sagter gegiggel het terwyl hy “Nkandla-Nkandla” gejodel het in die Parlement.  Dalk sou hy in 2015 ook meer as ‘n halwe vraag- en antwoordsessie bygewoon het.  (Ek wonder of ons te laat is om die betrokke sittingstoelae terug te eis?)

Die Konstitusionele Hof het op 31 Maart 2016 die aangeleentheid nie so lagwekkend gevind nie en bevind dat die President en sy kamerade deur hulle implisiete instemming, versuim het om die Grondwet te handhaaf, verdedig en te eerbiedig en dat hy en hulle geen respek vir die oppergesag van die Grondwet het nie.  Mens sou kon dink dat dit hom sou noop om om sy grondwetlike gewete “aangeskakel” te hou.

Inderdaad – toe ongelukkig nie, en die President besluit skynbaar dat die enigste manier om die affêre te laat werk, sal wees om al die Staat se speelgoed in die Zuma-mandjie te pak en dan kan daar nie  voorgeskryf word nie – grondwet-schmondwet.  Dit sluit, om maar enkeles te noem onder andere in, die SAUK,  die kernkragprogram, SAL, die Valke, die aankoop van ‘n eie persoonlike vliegtuigie (teen die geringe beweerde bedrag van R270K per dag), die gebruik van die staatskas as ‘n persoonlike beursie, asook ESKOM en die hand-om-die-blaas-verhouding met die liewe Guptas.  Die strooi wat heel moontlik die kameel omgeklits het was die guitige vervolging van die Minister van Finansies deur die altyd-gretige nasionale vervolginsgesag en die burgery wat kollektief opstaan & sê:  “Ons ruik ‘n rot” .  Ongelukkig vir die President en gelukkig vir die handjievol ewige hoopvolles, het die opposisiepartye se grondwetlike-gewete toe nou ongelukkig nie ook ‘n aan/af-skakelaar nie.  Ek vermoed die Staatsverkryging (State Capture) verslag was bepaald nie deel van die onmiddellike presidensiële visie nie, so ook nie die mallemeule-spoed waarteen dit die laaste paar weke of wat se gebeure laat eskaleer het nie.  My kort en onvolledige interpretasie speel so uit:

13 Oktober 2016, die President gee kennis dat hy regstappe gaan neem om die bekendstelling van die Openbare Beskermer se verslag oor die Staatsverkryging teen te staan – geheueverlies en selfbehoud motiveer.

25 Oktober 2016, tydens ‘n vraag- en antwoordsessie voor die Nasionale Raad van Provinsies oor die aanklagte teen die Minister van Finansies, stel die President dit onomwonde dat geen individu die reg het om in te meng met die onafhanklike prosesse en besluite van die onafhanklike staatsinstellings nie.  So “Nee” ek gaan nie betrokke raak nie en ten opsigte van die situasie bepaal hy hom by die Grondwet en kan daar dadels aan doen, die proses moet sy gang gaan – gedeeltelike gewete.

26 Oktober 2016, die Minister van Finansies lewer sy mini begrotingsrede so koel soos ‘n komkommer, ongeag van wat vlak onder sy vel mag broei en insgelyks moontlik gedagtig aan sy hangende hofsaak –totale afwesigheid van bewussyn aan die presiedensiële kant.

26 Oktober 2016, die President geniet ‘n “power nap” tydens die begrotingsrede, al die nommers (sic) is verwarrend en ‘n man moet skynbaar binnekort nog ‘n bydrae lewer – ooglopende geheueverlies.  (Ek wonder weer, kan ons dalk wel hier ‘n gedeelte van die sittingstoelae terugeis?)

26 Oktober 2016, die President herbevestig in ‘n ietwat losweg vertaling dat:  “Indien hierdie President betrokke sou raak in enige aangeleentheid, hetsy dit by ‘n hoofstuk 9, of enige ander  instelling mag wees, dit die amper versinnebeelding van ‘n piesangrepubliek daar sal stel”.   “From your mouth Sir…”

31 Oktober 2016, die Nasionale Vervolgingsgesag in die persoon van Shaun Abrahams kondig breëbors aan dat die aanklagtes teen die Minister van Finansies met genoë laat vaar word.  Die Burgery herbevestig dat hulle op 2 November strate gaan stap.  Presidensiële geheueverlies is nie hulle keuse van ‘n toestand (“state of being”), of vooruitgang nie.  Die President is so goed as tjoepstil.

1 November 2016 – die “State Capture” aansoeke en teenaansoeke word aangehoor.  Die President herbesin skynbaar teen die einde van die dag – sy grondwetlike gewete het moontlik aangemeld.

2 November 2016, die President onttrek sy aansoek om ‘n interdik te verkry ingevolge waarvan  die vrystelling van die Openbare Beskermer se verslag uitgestel behoort te word, die gevolglike bevinding is dat die verslag met onmiddellike effek bekendgemaak moet word.  Die volk is in die strate en die boodskap is ondubbelsinnig, duidelik en helder.  Die President is skynbaar nie ernstig oor die oppergesag van die grondwet (Rule of Law) nie.  Dinge moet verander of dieselfde bly, maar só kan dit nie aangaan nie!

Dit laat my dink aan ‘n storie (hoe waar, weet ek nie…).  Op ‘n goeie dag ry die oom by Loftus Versfeld verby en die groen gras en sprinkelbesproeiing trek sy aandag.  Terstond stop hy en gaan maak kennis met die terreinopsigter.  Hy verneem na die man se gesondheid, sy gesin en die rede vir die groen stuk veld so tussen al die beton.   Die oom pols oor die doel en gebruik van die mooi stuk grond met al die beskikbare water en die moontlikheid van ‘n aankoop vir sy boerdery, maar kry net ‘n telkemale onbevredigende antwoord.  Ten einde laaste op ‘n man-af vraag oor hoekom hulle dan nou nie wil verkoop nie, antwoord die terreinopsigter dat hulle nie kan of wil verkoop nie, want dit is waar die Blou Bulle wil rugby speel, waarop die oom antwoord:  “Nou wanneer het hulle dít besluit?”

Op insgelyke noot sou ons dan op ‘n kol dalk ook kon vra, nou wanneer het die President dít besluit, verwysend na sy gemaklike omgang met voldoen aan die Grondwet of nie en ‘n moontlike uiteindelike besluit om hom meer daaraan te onderwerp, eerder as nie.  Daardie besluit is egter vandag op 2 November 2016,  uit sy hande geneem deur die burgers, die mense van Suid-Afrika met die boodskap:   Jy onderwerp jou aan die Grondwet of nie, jy kies nie na gelang van die kleur van jou gemoed, jou kouse of wie jou vriende is nie.  Dit is nie van toepassing op die goeie dag wat jy dit wel onthou en dan nié, op ‘n gerieflike dag wanneer jy eerder van dit (wil) vergeet nie.

Ongeag van wat die President na afloop van die bekendmaking van die Openbare Beskermer se verslag of die “Red SA” veldtog besluit en/of ongeag van hoe die situasie deur sy eie party of die Parlement hanteer word – binne ‘n grondwetlike demokratiese bestel kan niemand, maar veral nie die president (of sy kabinet) bekostig om aan grondwetlike geheueverlies te ly nie.  Suid-Afrikaners op verskeie vlakke en vanuit verskeie oorde het op 2 November 2016 bevestig, dat indien dit dan die gediagnoseerde kwaal is, die mense van Suid-Afrika die grondwetlike gewete sal wees en so verseker dat geheueverlies nie ‘n vorm van regeer binne ons jong demokrasie word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button