SportSport

Olimpiese swemmer leer jonges swemtegnieke aan

Die bekende Olimpiese swemmer, Gerhard Zandberg, het sy ervaring en tegnieke vir talle jong swemmers van die NWU Junior Swemklub ten toon gestel tydens ‘n swemkliniek by Potchefstroom Girls High. Dié swemkliniek het vanaf 2-4 Julie plaasgevind en die tema was Strength Outside, Technique Inside. “Almal voel presies dieselfde wanneer hulle aan ‘n kompetisie deelneem. …

Die bekende Olimpiese swemmer, Gerhard Zandberg, het sy ervaring en tegnieke vir talle jong swemmers van die NWU Junior Swemklub ten toon gestel tydens ‘n swemkliniek by Potchefstroom Girls High. Dié swemkliniek het vanaf 2-4 Julie plaasgevind en die tema was Strength Outside, Technique Inside.

“Almal voel presies dieselfde wanneer hulle aan ‘n kompetisie deelneem. Almal is ewe moeg. Dit hang af hoe jou ingesteldheid is. ‘n Wenner is iemand wat altyd meer wil bereik en nie opgee nie,” het Zandberg na ‘n taai oefensessie aangemoedig.

Dit is juis hierdie mentaliteit wat Zandberg een van Suid-Afrika se beste swemmers maak. Hy is steeds die Afrika-kampioen in die 50m en 100m rugslag. Sy ervaring en kennis oor korrekte oefening buite die swembad en tegniek in die water het handig te pas gekom.

Die oefenkamp het gewoonlik met ‘n opwarmingsessie begin en daarna is na die toegeruste gimnasium beweeg waar liggaamsoefeninge gedoen is. Daarna is die swemmers water toe om hul tegnieke op te skerp.

Willie Scheepers, afrigter van die NWU Junior swemklub, meen sy swemmers sal hierna met ander oë na voorbereiding van die volgende swemseisoen kyk. “Die meeste van die swemkompetisies vind in Maart en April plaas en ek wil hê ons swemmers moet gereed wees,” sê Scheepers.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button