Rugby League se groot een gemeenskap-inisiatief
Afgevaardigdes van ‘n tiental Potchefstroomse laerskole het die bekendstelling van die Australiese Een Gemeenskap-projek verlede maand in die stad bygewoon en die gevoel is dat die Nieu-Suid Wallis projek ‘n belangrike bydrae kan lewer tot die opvoeding en karakterontwikkeling van Suid-Afrikaanse kinders. Die program wat nou wêreldwyd deur Rugby League aangebied word, gebruik Rugby League …
Afgevaardigdes van ‘n tiental Potchefstroomse laerskole het die bekendstelling van die Australiese Een Gemeenskap-projek verlede maand in die stad bygewoon en die gevoel is dat die Nieu-Suid Wallis projek ‘n belangrike bydrae kan lewer tot die opvoeding en karakterontwikkeling van Suid-Afrikaanse kinders.
Die program wat nou wêreldwyd deur Rugby League aangebied word, gebruik Rugby League om rugby in die algemeen te bevorder en dit sal moontlik binnekort by die Potchefstroom Dorp Rugbyklub aangebied word.
“Dit is gewis nie ‘n Suid-Afrikaanse Bulletjies rugbyprogram waar onnodige druk soms op kinders geplaas word nie,” sê Brian Greig, wêreldbekende Rugby League afrigter wat in Suid-Afrika was. Die vergadering wat by die raadsaal van die Potchefstroomse burgemeester plaasgevind het, is op versoek van SA Rugby League deur die Departement van Onderwys en die Stadsraad gereël. Hy en die hoofuitvoerende beampte van Rugby League in Suid-Afrika, mnr. Jaque van der Merwe, het die Een Gemeenskap-projek ‘n paar weke gelede aan die burgemeester, mnr. Kgotso Khumalo bekendgestel. Greig sê die program is ‘n inisiatief van Rugby League om persoonlike eienskappe by kinders te ontwikkel en om sport in die algemeen as riglyn te gebruik. Dit word gedoen lank voordat ‘n kind aan ‘n rugbybal vat, hoewel belangrike beginsels in sport ‘n rol speel.
Die projek is deur die stadsraad aanvaar omdat dit ‘n sterk aanvullend tot die onderrig van kinders kan wees en reeds wêreldwyd bewys is dat gesonde gedragspatrone en karaktervorming by kinders deurslaggewend van aard is. Rugby League se provinsiale voorsitter in Noordwes, mnr. Jan Prinsloo wat die program aan die afgevaardigdes verduidelik het, sê dit word ook in Nieu-Seeland gebruik as belangrike vertrekpunt om onderliggend, die belangrikheid van gesonde sportmangees by kinders te beklemtoon. “Australië en Nieu-Seeland is twee van die sterkste sportlande ter wêreld en alles begin by die kind waar hierdie eienskappe tuisgebring en aangewakker word. Leergierigheid, kreatiewe denke, respek teenoor meerderes en sosiale verantwoordelikhede word op ‘n vroeë ouderdom deur kundiges by kleuters en laerskoolkinders onderstreep, terwyl die kind geleer word om stelselmatig self navorsing te doen oor eie kultuur, taal, en sportgeskiedenis van hul ouers. Harmonie in die huis speel ‘n groot rol in die proses.
In Nieu-Suid-Wallis, Australië word groot welslae hierdeur bereik en kinders presteer ongelooflik binne en buite klasverband. Die Departement van Onderwys se dat die vergadering op kort kennisgewing plaasgevind het en dat ’n tweede vergadering beplan word, moontlik in Desember vanjaar. Aspekte van gesonde omgewing, gesonde eetgewoontes, genoeg slaap en gesonde kommunikasie speel ‘n belangrike rol in die vorming van ‘n gesonde gees en liggaam. Die kursus gee die gevoel van veiligheid en selfversekerdheid by die kind. Slegte gewoontes en waarom dit belangrik is om met net die beste tevrede te wees, is die hoofslagaar waardeur kundiges tot die kind deurdring. “Aggressie ontstaan in gevalle waar ouers en toeskouers kinders aanpor om hardhandig in veral kontaksport te reageer en dit dra geensins by tot gesonde identiteitsvorming nie “ meen Prinsloo. Hy is ‘n groot voorstander dat die kind ’n belangrike faktor is om pa’s en ma’s weer by rugbyvelde te kry en dat dit nie gaan oor sekere rugbykodes nie, maar eerder oor die pogings wat aangewend word om jong talent in stylvolle sportlui te ontwikkel wat respek sal afdwing.



