WP vuur doodskoot teen moedige Luiperds
Puik hardlooprugby was aan die orde van die dag op ’n koue Olënpark toe die Luiperds en Westelike Provinsie slaags in ’n Absa Curriebeker kwalifiserende wedstryd geraak het. WP het hierdie opwindende wedstryd vanaand (Saterdag, 4 Junie) met 43-34 gewen, nadat hulle net te veel skietgoed vir die Luiperds gehad het, wat moedig probeer het …
Puik hardlooprugby was aan die orde van die dag op ’n koue Olënpark toe die Luiperds en Westelike Provinsie slaags in ’n Absa Curriebeker kwalifiserende wedstryd geraak het.
WP het hierdie opwindende wedstryd vanaand (Saterdag, 4 Junie) met 43-34 gewen, nadat hulle net te veel skietgoed vir die Luiperds gehad het, wat moedig probeer het om ’n 31-13 rustyd agterstand in te haal.
Rhyno Smith het twee drieë gedruk en was beslis die Luiperds se woeligste speler op die veld. Hy het ook onder andere ‘n skepskop oorgeklits. Marno Redelinghuys het ook oor die doellyn gegaan met Jaco Hayward wat die ander drie na ’n praglopie gaan druk het.
Aan die WP se kant het Grant Hermanus twee keer oor die doellyn gaan kuier, terwyl Beyers de Villiers, Freddie Muller, Jean Kleyn en Khanyo Ngcukana ook hulle name op die telbord met drieë ingepen het.
Net so goed soos wat die Luiperds begin het, het hulle die wedstryd geëindig, maar hulle gebrek aan ’n volhoubare spelpeil oor die volle 80 minute het hulle op die ou einde aan die verloorkant gebring.
Daar was definitief blink punte vir die Luiperds vanaand; soos Smith se blink aanvallende spel sowel as kaptein Jeandré Rudolph se werksverrigting op die veld. Smith het die wedstryd se eerste drie gedruk na hy ’n skoppie ingesamel het en toe drie verdedigers ontduik het om oor die drielyn te duik. Smith se strafskop het die telling na 10-0 geskuif, maar dit was die laaste gelukkie vir die Luiperdsondersteuners voor rustyd.
Kort voor lank het WP begin terugveg en skielik was hulle 14-10 voor. ’n Paar onnodige foute op verdediging het die Luiperds gekos en die Streeptruie het seker gemaak dat hulle voordeel trek. In hierdie tydperk net voor die tweede helfte het WP losskakel Scott van Breda wat met sy akkurate skopvoet WP se telbord aan die rol gehou.
In die tweede helfte het die Luiperds meer doelgerig begin speel en ook sodoende balbesit behou. Redelinghuys se drie het daardie ekstra selfvertroue meegebring, maar steeds was daar vraagtekens oor die Luiperds se skrumwerk en lynstaanspel, waar WP oorheers het vanaand. ’n Paar keer was die manne van die Kaap net te sterk en georganiseerd in hulle skrum en dryfbewegings.
Toe Kleyn die sesde drie vir WP net 10 minute voor die einde druk was die koeël deur die kerk vir die Luiperds.
Dit was ’n goeie geveg, maar die wit vlag moes na 80 minute gehys word.
Foto’s: Wouter Pienaar









































