Pukke hou kop en gebruik geleenthede om Maties te oorwin
In ‘n herhaling van verlede jaar se Varsity Netbal-finaal het NWU Pukke en Maties mekaar weer die stryd in die Coetzenburg Arena in Stellenbosch aangesê met Pukke wat weer oorwin het. In vanaand (5 September) se eeste wedstryd van die 2016 Varsity Netbalreeks vir Pukke, het die verdedigende kampioenne in ‘n rateltaaistryd met 41-32 geseëvier. …
In ‘n herhaling van verlede jaar se Varsity Netbal-finaal het NWU Pukke en Maties mekaar weer die stryd in die Coetzenburg Arena in Stellenbosch aangesê met Pukke wat weer oorwin het.
In vanaand (5 September) se eeste wedstryd van die 2016 Varsity Netbalreeks vir Pukke, het die verdedigende kampioenne in ‘n rateltaaistryd met 41-32 geseëvier.
Dit was hoofsaaklik danksy Pukke se doelwagter, Zandré Kruger, wat ‘n puik wedstryd gehad het en goed saam met haar mede verdediger, Jeanté Strydom gewerk het.
Die hoeveelheid druk wat Kruger toegepas het en balle wat sy gesteel het, het in belangrike oomblikke Maties se momentum geknou.
Vermelding moet ook aan Pukke se huldoel, Marna Claassens, gegee word wat onder druk doele aangeteken het om Pukke se kanse sterk te hou. Die hele wedstryd was kop aan kop met geen span wat vir die ander een meer as ‘n twee punt voorsprong wou gee nie. Sodoende was daar ook baie foute met spelers van beide spanne wat soms te haastg wou speel.
Teen halftyd was Pukke met 26-24 voor, maar in die derde kwartuur het Maties sterk teruggekom danksy ‘n paar onnodige foute van Pukke se kant af. Maties se Juline Rossouw was een van haar span se staatmakers.
Nietemin het Pukke hulle kampioen-mentaliteit bewys toe hulle in die Powerplay vinnig ‘n agt punt voorsprong behaal het met slegs vyf minute speeltyd oor. Hier het Pukke hulle sesde rat gevind met Kifiloe Tsotetsi wat die doele aangeteken het wat twee punte getel het. Tsotetsi het haar lengte en ervaring in hierdie omstandighede uitstekend gebruik.
Na hierdie blitzkrieg was Maties se kanse daarmee heen en Pukke kon hulle eerste wedstryd as kampioenne op ‘n goeie noot begin.
“Ons weet dit sou moeilik wees en ons het mooi uitgehou tot op die einde om die wen deur te dra,” het Kruger, die speler van die wedstryd gesê.
“Dit is ‘n goeie manier om die toernooi te begin,” het Pukke se nuwe kaptein Chanté Bester bygevoeg.



