Spanwerk is sleutel tot Pukke se netbalsukses
Ondersteuning. Dit is die een woord wat Pukke se dubbele Varsity Netbaloorwinning, Maandag, 17 Oktober, op Tukkies se tuisgronde by die Rembrandt-saal die beste omskryf. Ondersteuning was die kritieke faktor, beide binne en buite hierdie kampioenspan se raamwerk met hulle 56-55 oorwinning teen die voorheen onoorwonne Tukkies. Binne die spanopset was Dorette Badenhorst se dames …
Ondersteuning.
Dit is die een woord wat Pukke se dubbele Varsity Netbaloorwinning, Maandag, 17 Oktober, op Tukkies se tuisgronde by die Rembrandt-saal die beste omskryf.
Ondersteuning was die kritieke faktor, beide binne en buite hierdie kampioenspan se raamwerk met hulle 56-55 oorwinning teen die voorheen onoorwonne Tukkies. Binne die spanopset was Dorette Badenhorst se dames soos die drie musketiers op en van die baan af. In plaas van drie was daar 12 netbalmusketiers wat almal na een groot doel gestreef het.
Doele het juis die uitstekende temperament van die span in die laaste kwart bewys toe Pukke se Proteas, Renske Stoltz en Sigi Burger, hulle staal by die net getoon het. 54-54 met een minuut oor? Geen probleem vir Stoltz om koelkop met een laaste langafstand skoot Tukkies se kanse te kwes nie.
Daardie doel was genoeg om Puk-euforie los te laat met elke liewe Puk wat luidkeels gedurende die wedstryd hul stem laat hoor het. Dit het herinner aan die suksesvolle opstyg van ‘n NASA vuurpyl: 5, 4, 3, 2, 1 het die skares in maroen uit volle bors die laaste sekondes afgetel. Met die eindfluitjie het almal gelag, gedans, gesing en trane van blydskap gehuil – soos iets uit ‘n Hollywood sportstorie.
Aan die ander kant was Tukkies letterlik en figuurlik teen die vloer, die gunsteling in die laaste minuut gefnuik. Die 2016 Varsity Netbalspeler van die toernooi, Tukkies se Shadine van der Merwe is op haar hurke, kop af, trane wat vloei. Individuele toekennings maak nie soveel saak nie. So naby maar tog so ver en nou voel 2017 soos ‘n ewigheid.
Vir Pukke se kaptein, Chanté Bester en haar spanmaats moet tyd net stilstaan sodat hulle weer en weer hierdie wen-oomblik kan beleef.
“Ons is verskriklik bly oor die wen en om dit vir ‘n tweede keer vir mekaar te kan doen. Dit was ‘n fantastiese finaal gewees wat enige span kon wen. Ons het vir mekaar baklei tot die laaste sekonde toe,” het Bester haar span se samewerking beklemtoon.
“Dit is ook ‘n groot voorreg vir almal om onder Dot (Dorette Badenhorst) en Julene Meyer te kon speel en so ‘n goeie afrigtingspan het,” het Bester haar afrigtingspan geloof. Bester glo ook dat rustigheid iets is wat Badenhorst met haar spanpraatjie voor die laaste 15 minute beklemtoon het, met die telling wat toe op 42 elk was. “Sy het gesê dat ons ons eie wedstryd moet speel en nie in Tukkies se ritme moet val nie. As ons in mekaar glo en vertrou dan kan ons dit doen. Sy het in ons as ‘n span geglo en ons heeltyd ondersteun.”













