Kolskote is dié bekende boogskut se kos
‘n Uiters passievolle boogskutter het 16 jaar gelede sy land by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig en Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen geword. Nou is hierdie boogskutmeester in Potchefstroom waar hy sy merkwaardige kennis van hierdie sport aan talle belangstellendes by Marksman Archery deel. Leon Heydenrych is soos ‘n lopende boogskiet ensiklopedie wat ure kan gesels oor verskillende …
‘n Uiters passievolle boogskutter het 16 jaar gelede sy land by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig en Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen geword.
Nou is hierdie boogskutmeester in Potchefstroom waar hy sy merkwaardige kennis van hierdie sport aan talle belangstellendes by Marksman Archery deel. Leon Heydenrych is soos ‘n lopende boogskiet ensiklopedie wat ure kan gesels oor verskillende pyle en boë, verskillende tipes boogskiet, pryse, nuwe tendense en nog meer. Pylreguit en sonder skroom sal Heydenrych sy passie vir die sport met woord en daad raakvat.
“Boogsport is werklik ‘n wonderlike sport wat baie fokus en selfdissipline benodig. Jou konsentrasievlakke moet ook net so hoog wees. 80% van boogskiet gaan oor jou geestelike taaiheid en om pyle oor en oor konstant te kan skiet,” sê Heydenrych, wat 60 pyle in ‘n ry al kolskoot geskiet het vir ‘n binneshuise skietrekord.

Volgens hierdie ervare skut is daar twee hoofsoorte skiet, veldskiet en binneshuise skiet.
“In veldskiet is daar 28 teikens waar jy vier pyle per teiken skiet en dan wissel dit met verskillende afstande tot en met 80 tree (yards). Met binneshuise skiet word daar 5 pyle per been geskiet totdat daar 60 pyle altesaam geskiet is,” verduidelik hy. Daar is natuurlik ook ‘n klomp natuurlike faktore met veldskiet wat in ag geneem moet word, soos die helling, windspoed, son en skaduwee wat ‘n groot impak het. Dit maak dit lekker.”
Heydenrych se liefde vir die sport het sy eerste hartklop in 1999 gekry toe een van sy vriende hom gevra het of hy nie saam wil gaan jag met ‘n boog nie.
“Ek was eers huiwerig, maar toe stem ek in en skiet ‘n paar pyle. Ek het my eerste boog ‘n kort rukkie daarna vir R4 500 gekoop en ingestel – toe was ek reg vir my eerste jagsessie. In my eerste kompetisie in Johannesburg het ek tweede gekom en toe weet ek hier is ‘n sport waarin ek kan presteer,” vertel hy. Heydenrych het ongelooflike vordering in ‘n jaar se tyd getoon en toe sy Protea-kleure in teikenskiet in 2000 gekry.

“Kort daarna was ek die eerste Suid-Afrikaanse wêreldkampioen in teikenskiet. In 2001 het ek my titel ook weer verdedig en ek was ook agt jaar Afrikakampioen gewees. Dit was ‘n klomp goeie jare,” vertel Leon trots. Na ‘n motorongeluk vier jaar gelede het Leon sy kompetisie deelname vir ‘n paar jaar gestaak, totdat hy vanjaar weer begin het om deel te neem. Heydenrych het in 2016 aan ses kompetisies deelgeneem en almal gewen, waar hy sy rekord of geëwenaar of verbeter het.
“Alles het hierdie jaar net weer in plek geval en dit was goed om net bietjie ‘n terugkeer te maak,” voeg hy by.

Buiten dat Heydenrych ‘n uitstekende skut is, is hy ook net so in die kol wanneer dit kom by kursusse aanbied en opleiding gee.
“Ek hou baie daarvan om met mense te werk en veral die afrigtingsaspek van boogsport. Dit is juis een van die redes waarom ek Potch toe gekom het. Tans het ons die Marksman Archery klub wat uit 78 lede (30% studente) bestaan wat een van die beste klubs in die land is. Dit is verstommend hoe vinnig die klub gegroei in so ‘n bietjie meer as ‘n jaar se tyd. Ek dank God vir al die talent en Sy genade,” sê Heydenrych.




