Pukke sink Pirates in klubrugby aksie
Al het die NWU Pukke se Varsitybekerspan vanjaar vroeg in dié groot kompetisie gestruikel, het die NWU-Puk 1 Rugbyspan hulle stemme dik gemaak verlede naweek met ‘n 36-22 oorwinning teen Johannesburg se Pirates in Greenside. Klubrugbykoors is weer hoog hierdie tyd van die maand en Pukke het die temperature met kookwater rugby in die laaste …
Al het die NWU Pukke se Varsitybekerspan vanjaar vroeg in dié groot kompetisie gestruikel, het die NWU-Puk 1 Rugbyspan hulle stemme dik gemaak verlede naweek met ‘n 36-22 oorwinning teen Johannesburg se Pirates in Greenside.
Klubrugbykoors is weer hoog hierdie tyd van die maand en Pukke het die temperature met kookwater rugby in die laaste 20 minute van die stryd laat styg.
Pirates en Pukke was kop-aan-kop gedurende die eerste 60 minute van die wedstryd met ‘n telling op 15 elk. Iets moes gebeur en die span wat die meeste inisiatief sou bring, het geweet dat hulle met die spogregte sou wegstap.
Pukke se groot voordeel was hulle diepte op die reserwebank en dit het gewys in daardie laaste kwartuur toe Pukke die drie-krane begin oopdraai het.
Dannick Pheiffer het twee drieë vir Pukke aangeteken, voordat Ryno Wepener, Dean Stokes en die speler van die wedstryd, Damian Burns, die wen vir Pukke met drieë beklink het.
Burns het ‘n uitstekende wedstryd vir Pukke gehad en het as flank op die veld sy naam dik gemaak. Puk afrigter, Burger van der Westhuizen kan trots wees op sy span se vertoning en die toekoms lyk blink met ‘n klompie jong spelers wat hulle hand in druk tye opgesteek het.
Pukke se losskakel, Hendrik Mulder het met vier doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag. Vir Pirates het Stokkies du Plessis vyf strafdoele oorgeklits. Dudley Stead kon in die laaste paar minute Pirates se eerste en enigste drie druk.