
‘n Student aan die NWU, Shane Dadswell, het vir homself ‘n besondere en ietwat ongewone geskenk, ‘n krieket wêreldrekord, op sy 20ste verjaardag losgemoker.
Tydens ’n ligawedstryd op Saterdag 18 November tussen Potch Dorp 1 en Pukke, het dié inwoner van Over de Voor manskoshuis 490 lopies van 151 balle geslaan.
Die span se totaal was 677/3 na 50 beurte. Dadswell het die kolfwerk geopen en met 57 sesse en 24 viere byna die hele wedstryd deur gekolf. In die 46ste beurt is hy op die grens uitgevang.
Volgens Niel Bredenkamp, hoofafrigter van die span, het hy die vorige rekord met 4 lopies verbeter.
“Dit is die rekord vir die meeste lopies in alle beperkte beurt klub- en skolekrieket in die wêreld. Ons is baie trots op hom,” het hy gesê.
“Dit is ’n onbeskryflike gevoel wat stadig maar seker besig is om in te sink,” het Dadswell gesê.
Dié bedryfsielkundestudent, wat reeds sedert die ouderdom van ses jaar ’n kranige krieketspeler is, het nooit aan die rekord gedink nie.
“Ek het eers na die tyd gehoor dat dit ’n rekord is. Ek het net vir myself gesê, kry net nog 50, daarna weer, net nog 50,” vertel hy.
“Ons spot met hom dat as hy eendag kinders het, sal hulle hom nie glo as hy sê wat sy hoogste telling is nie,” vertel Bredenkamp.
Andrew Samson, amptelike statistikus van Krieket Suid-Afrika, het die rekord bevestig.
“Dit is die hoogste telling wat in Suid-Afrika gemaak is en dit blyk ’n wêreldrekord vir beperkte boulbeurt wedstryde te wees,” het Samson gesê.
Volgens Dadswell was dit goed om te beleef dat selfs die spelers van Potch Dorp vir hom ’n applous gegee het toe hy van die veld af stap.
Kort na die wedstryd is hy selfs deur die internasionale media oor sy prestasie gekontak.




