Volkies begin Finsburyliga met naelbytstryde teen Waterkloof
Volkies se eerste krieketspan het Maandag hul Finsbury A-liga op ‘n spanningsvolle en hoogs vermaaklike wyse met ‘n gelykop uitslag teen ‘n sterk Hoërskool Waterkloof-span op Witrand begin. Die veelsydige André Taljaard het ‘n onoorwonne 100 (89) aangeteken en het amper sy span na ‘n oorwinning gekolf, maar op die ou einde was daar niks …

Volkies se eerste krieketspan het Maandag hul Finsbury A-liga op ‘n spanningsvolle en hoogs vermaaklike wyse met ‘n gelykop uitslag teen ‘n sterk Hoërskool Waterkloof-span op Witrand begin.
Die veelsydige André Taljaard het ‘n onoorwonne 100 (89) aangeteken en het amper sy span na ‘n oorwinning gekolf, maar op die ou einde was daar niks wat die spanne kon skei nie.
Dit was miskien die beste weerspieëling van ’n wedstryd waar geen span teruggestaan het nie. Waterkloof het eerste gekolf met Wikus Lindeque (77) en Jordan Hermann (57) wat Waterkloof tot by 266/7 gelei het. Volkies het ‘n goeie kans gestaan, maar net Van Zyl Smit (44) en Taljaard kon ‘n betekenisvolle vennootskap aanmekaar slaan.
Die val van paaltjies op kritieke tye het ook vir Volkies sake moeilik gemaak, maar Taljaard het vasgestaan. Jaco Viljoen het toe ‘n vier van die laaste bal geslaan om die wedstryd gelyk te eindig. As die bal ‘n paar meter verder getrek het, was die wen Volkies s’n.
*Volkies se o.15A-span het ook net so ‘n spannende wedstryd teen Waterkloof se o.15A’s beleef wat ook met die laaste bal van die wedstryd bepaal is. Waterkloof moes ses lopies van die laaste bal moker om te wen, maar kon dit nie regkry nie en Volkies kon toe met 4 lopies seëvier.
Volkies se man van die wedstryd was die jong graad-8 kolwer, Corné Prinsloo wat sommer vroeg in sy Volkies krieketdrag sy stempel met ‘n briljante 80 afgedruk het.
Die voormalige Bailliepark-kolwer was ook verlede jaar tydens die o.13 KSA Nasionale Krieketweek een van die voorste lopiemakers. Volkies het eerste gekolf en 201/6 aangeteken. Sake was moeilik op die kolfblad en Volkies se boulers kon daarin slag om Waterkloof tot 197/7 te beperk.
Foto’s: Wouter Pienaar











