SportSport

Volkies beleef naelbytstryde teen Menlopark in Finsburyliga

Volkies se eerste krieketspan is steeds onoorwonne in die Finsbury A-liga nadat hulle Hoërskool Menlopark die afgelope Saterdag met drie paaltjies in Pretoria geklop het. Dié wedstryd is na 45 beurte verkort weens swaar reën. Twee spelers wat beslis hulle hande opgesteek het, was die veelsydige Jannie Claassens met ‘n puik 4/34 in 9 boulbeurte …

Volkies se eerste krieketspan is steeds onoorwonne in die Finsbury A-liga nadat hulle Hoërskool Menlopark die afgelope Saterdag met drie paaltjies in Pretoria geklop het.
Dié wedstryd is na 45 beurte verkort weens swaar reën.
Twee spelers wat beslis hulle hande opgesteek het, was die veelsydige Jannie Claassens met ‘n puik 4/34 in 9 boulbeurte en Christopher de Freitas met 54 (69) in moeilike omstandighede wat sy span na die teiken van 195 gelei het.
Volkies se kaptein, Martin Fourie, het die loot gewen en besluit om eerste te boul en die vroegoggend omstandighede te benut. Claassens, Erwie Griessel en Van Zyl Smit het vinnig paaltjies gevat en danksy ekonomiese boulwerk en op en wakker veldwerk is die tuisspan tot ‘n klein totaal beperk.
Volkies was vroeg in die moeilikheid met die kolf toe Fourie (10), Christiaan Bester (10) en André Taljaard (0) uit is.
Smit met ‘n ankerbeurt van 32 (81) en De Freitas se vyftigtal het Volkies weer hoop gegee. Claassens het nes met die bal, ook met die kolf bygedra en ‘n vinnige 20 (23) aangeteken. Waldu Kotze met ‘n onoorwonne 24 (28) het die span oor die lyn gedra.
Die o.15 A-span het op Volkies se velde ook teen Menlopark te staan gekom, maar moes in ‘n naelbytstryd die knie met 3 lopies buig.
Menlo het eerste gekolf en is vir 165 almal uitgeboul. John van Wyk (3/22) en Wendel Osuala (2/28) was die sterre met die bal.
Volkies sou vol hoop gedink het dat hulle by dié totaal sou uitkom, maar ondanks Waldo Kemp se briljante vegtersbeurt van 42 (89) kon hulle net nie die teiken haal met nog 3 balle oor nie.
Menlopark se Kenneth Byrd was die vlieg in Volkies se sop met 4/29 in ‘n uitstekende boulvertoning onder groot druk.

Foto’s: Barco Greeff

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button