ES le Grange-atleet se drome word waar in Frankryk
Baren Davids van ES le Grange Skool in Potchefstroom het met meer as net ‘n glimlag en unieke ervaring die afgelope Desember vanaf Reims in Frankryk teruggekeer. Hy het ‘n briljante derde plek by die Inas Wêreldlandloopkampioenskappe behaal wat vanaf 7-10 Desember gehou is. Hy staan trots in sy Proteakleure met ‘n splinternuwe beker by …
Baren Davids van ES le Grange Skool in Potchefstroom het met meer as net ‘n glimlag en unieke ervaring die afgelope Desember vanaf Reims in Frankryk teruggekeer.
Hy het ‘n briljante derde plek by die Inas Wêreldlandloopkampioenskappe behaal wat vanaf 7-10 Desember gehou is.
Hy staan trots in sy Proteakleure met ‘n splinternuwe beker by die skool waar hy sy atletiektalente ontgin het.

Baren het hierdie prestasie in spanverband vir sy land in die 8.6 kilometer wedloop behaal wat op Sondag 10 Desember gehou is. Nie net was die kompetisie van al die ander lande uitdagend nie, maar Baren en sy spanmaats moes modderige toestande en reën ook trotseer in die Europese Winter.
“Sjoe, daar was baie modder en die modder was so erg dat ek my drafstyl moes aanpas en nader tree gee om spoed te bou en gemaklik te hardloop,” vertel Baren. Hy het die SASA-II-span vir verstandelik gestremde atlete verteenwoordig. “Hierdie trofee en om nuwe mense te ontmoet was vir my die lekkerste ding. Die atlete van Italië was op ‘n ander vlak, hulle hardloop regtig goed,” voer Baren verder aan.
Nog ‘n ervaring wat altyd by Baren sal bybly was die fasiliteite in Frankryk en die algehele ervaring om ‘n ander land te sien. “Ek kon darem vir my ‘n baadjie koop om terug te bring huis toe en natuurlik die trofee,” sê hy met ‘n glimlag.







