Drie in een vir Gimmies by Interhoër
Na nege ure se bloed, sweet en trane op die tartanbaan en lowergroenvelde van die Kenneth McArthur Atletiekstadion, is Potchefstroom Gimnasium as die algehele oorwinnaars van die eerste Noordwes Goud Interhoër-byeenkoms gekroon. Die atletiekaksie op Saterdag 17 Februarie tussen Gimmies en die ander agt deelnemende Noordwes skole was letterlik en figuurlik vuurwarm met elke item …

Na nege ure se bloed, sweet en trane op die tartanbaan en lowergroenvelde van die Kenneth McArthur Atletiekstadion, is Potchefstroom Gimnasium as die algehele oorwinnaars van die eerste Noordwes Goud Interhoër-byeenkoms gekroon.
Die atletiekaksie op Saterdag 17 Februarie tussen Gimmies en die ander agt deelnemende Noordwes skole was letterlik en figuurlik vuurwarm met elke item wat ‘n luide applous van die skare verkry het.
Die voorafgaande atletiek karnaval was in skrille kontras met die doodse stilte en afwagting wat met die aankondiging van die wenners geheers het. Almal in die stadion het tjoepstil vir die aankondiger gewag om die punte van laag na hoog te lees en toe die oomblik aanbreek, was dit ‘n skrale 31 punteverskil tussen Hoërskool Klerksdorp en Gimnasium.
Die vreugdevure het behoorlik gebrand met Gimmies wat ook die seuns en dogterstitels verower het en sodoende skoonskip gemaak het.
Gimmies se grootste teenstand het vanaf Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Klerksdorp gekom met al drie skole wat op verskeie kere die voortou in die Interhoër geneem het. Teen die tyd van die aflosse was hierdie skole steeds op mekaar se hakskene en in hierdie laaste item sou die wenners bepaal word. Gelukkig vir Gimmies het hulle ster naellopers nie teleurgestel nie en met puik spanwerk en vaart die ander skole in die stof gelaat.
Die groot uitblinkers op die dag was Gimmies se Karmen Fouché (Junior Victrix-Ludorum), Nardus Swart (Senior Victor Ludorum) sowel as Volkies se o.14 sensasie, John van Wyk wat met die beste veldatleet sowel as die Junior Victor Ludorum bekers weggestap het. Hoërskool Rustenburg se skitter naelloper, Nicola van der Merwe het met die Senior Victrix Ludorum weggestap.
Foto’s: Wouter Pienaar
Volgens Arnold van der Merwe, Gimmies se atletiekorganiseerder, was hierdie nuwe Interhoër ’n groot hoogtepunt vir Gimmies se atletiek.
“Gimmies maak geskiedenis as die eerste wenners en ons het Saterdag weet bewys dat ons die beste plattelandse atletiekskool is,” het Van der Merwe gesê wat ook die geleentheid gegun is om die fakkel na afloop van die byeenkoms te blus.
Die finale puntestand is:
1. Gimmies 827
2. KHS 796
3. Rustenburg 724
4. Lichtenburg 705
5. Wesvalia 693
6. Volkies 578
7. Girls High/Boys High 375
8. Diamantveld 170.






































