SportSport

Jong atletiekster laat drie plaaslike rekords spat

Soos dinamiet wat in klein pakkies kom, het Amé Keyser (11) onlangs weer met haar talent en tegniek atletiekrekords laat ontplof. Hierdie jong Potchefstroomse atleet, wat veral in spiesgooi en verspring uitblink, het by die onlangse Laerskool Mooirivier Prestige Atletiekbyeenkoms die spiesgooirekord vir dogters o.12 gebreek met ‘n puik gooi van 30.41 meter. Dit was …

Soos dinamiet wat in klein pakkies kom, het Amé Keyser (11) onlangs weer met haar talent en tegniek atletiekrekords laat ontplof.
Hierdie jong Potchefstroomse atleet, wat veral in spiesgooi en verspring uitblink, het by die onlangse Laerskool Mooirivier Prestige Atletiekbyeenkoms die spiesgooirekord vir dogters o.12 gebreek met ‘n puik gooi van 30.41 meter. Dit was nie al nie, want Amé het toe sommer ook die verspringrekord met ‘n sierlike sprong van 4.6 meter gebreek.
Vanjaar by ML Fick se huissport het sy ook in ‘n japtrap met Joné Kruger se spiesgooirekord klaargespeel met ‘n gooi van 28 meter, 10 meter verder as die vorige rekord.
Amé (graad 6) ontvang tuisonderrig, maar neem deel aan sport vir Laerskool ML Fick, en kan met haar meer buigsame skedule haar liefde vir sport ook by haar skoolwerk inpas. Sy is juis al van jongs af mal oor sport en het veral in landloop uitgeblink voor sy haar visier na die atletiekbaan verskuif het.

“Ek het eintlik met tweekamp begin en ook landloop gedoen. In graad 3 was ek Noordwes se nommer 1 en het 6de by die SA’s geëindig,” vertel Amé met ‘n vriendelike glimlag.

Haar ma, Zelda, stem ook saam en glo dat haar bereidwilligheid om te leer en die lewe met albei hande aan te gryp, ‘n groot rol speel.

“Amé was nog altyd mal oor haar sport. Sy was in 2016 die SA verspring-kampioen vir o.9 dogters en dit was vir ons ‘n groot verrassing. Sy het laasjaar wel beserings in haar knieë opgedoen (Osgood-Schlatter siekte) en kon nie baie deelneem nie, so dit was vir haar lekker om weer betrokke te wees hierdie jaar. In die vakansie sal sy baie keer oefen met behulp van video’s.
Sy geniet dit vreeslik om aktief te bly,” vertel haar ma.

Buiten atletiek het Amé ook ‘n groot voorliefde vir hokkie en het al haar provinsie in hierdie spansport verteenwoordig. Volgens Amé is haar groot doel om by die SASA Laerskole SA Atletiekkampioenskappe in die Paarl vanaf 15-17 Maart die top 5 in beide verspring en spiesgooi te behaal. “Ek het voorheen gewen by die SA’s, so ek weet ek kan goed doen, maar ek weet ook as iemand beter as ek is op die dag, dan verdien hulle dit,” sê Amé nederig.

“Daar is niks lekkerder as om ver te spring en hoog in die lug te trek nie. Net om soos deel te neem en te probeer om jouself te verbeter, is ook baie lekker.”

Haar spiesgooiafrigter, Erich Wiese, was ook vol lof vir haar uitstekende vordering. “Sy het ongelooflike potensiaal met baie krag en spoed vir haar liggaamsbou en lengte.

Sy is bereid om te leer en luister altyd wat ek vir haar sê. Ons fokus nou om die spies teen haar kop te hou as sy gooi (een van die belangrikste faktore met spiesgooi).

Ons fokus ook om konstantheid te verbeter. ‘n Mens hoef nie elke kompetisie ’n persoonlike beste te gooi nie, maar probeer om binne ’n meter of twee daarvan te bly. Ek sien uit om ‘n nuwe voorseisoen met haar te begin, want sy oefen nou eers drie weke by my.
Sy kan eendag ’n SA kampioen word,” sê Wiese.

Mall

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button