SportSport

Plaaslike SA bokskampioen deel uitklophoue sonder moeite uit

Met vuiste vol selfvertroue en ‘n boks-IK wat skrik vir niks, het die 2 meter hemelbesem, Wilhelm Nebe (22), sy opponente letterlik deur die toue geslaan om as die nuwe SA Amateur Superswaargewig bokskampioen gekroon te word. Hierdie NWU-student het dié prestasie vanaf 3-7 Julie in Secunda by die Graceland Casino behaal waar hy sake …

Met vuiste vol selfvertroue en ‘n boks-IK wat skrik vir niks, het die 2 meter hemelbesem, Wilhelm Nebe (22), sy opponente letterlik deur die toue geslaan om as die nuwe SA Amateur Superswaargewig bokskampioen gekroon te word.

Hierdie NWU-student het dié prestasie vanaf 3-7 Julie in Secunda by die Graceland Casino behaal waar hy sake met sy intensiteit, aggressie en oorweldigende statuur oorheers het.

Nebe se rekord is tans 100 persent, met vyf oorwinnings in dieselfde getal gevegte. In al hierdie gevegte kon sy teenstanders dit nie verby die eerste rondte maak nie, met almal wat met reuse uitklophoue teen die vloer verpletter is. In die eerste geveg het hy sy teenstander deur die toue geslaan, die tweede opponent in 30 sekondes geklop en na slegs een rondte vir Jason Phaal (WP) in die finale geveg vuisvoos geslaan.

Wilhelm Nebe is gereed vir enige teenstander soos sy 5-0 rekord tans bewys.
Wilhelm Nebe is gereed vir enige teenstander soos sy 5-0 rekord tans bewys.

“Ek het baie selfvertroue. Ek weet ek slaan ook verskriklik hard en vinnig. Ek weet ook as ek enigiemand behoorlik slaan bly hulle op die mat. Ek het ook ‘n groot instink en ek probeer soveel as moontlik na allerhande boksers kyk,” sê Nebe, wat tans ‘n tweedejaar student in B.Com. Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur aan die NWU is. “Ek wil die beste in die wêreld wees en al die titels wen. Ek glo ‘n wêreld swaargewigkampioen moet almal uitslaan en nie op punte wen nie. Ek onderskat niemand nie, maar ek wil domineer soos Muhammad Ali, George Foreman en Mike Tyson,” verduidelik hy.

Kyk die video hier:

Nuwe plaaslike SA kampioen slaan opponente vuisvoos

“Ek en my pa het van kleins af altyd daarvan gehou om bietjie teen mekaar te ‘speel-boks.’ My oupa aan my ma se kant kom van ‘n boks agtergrond af. Ek het in my eerste jaar waar ek Cheetahs o.19 rugby gespeel het, die bokskryt betree, maar ek was toe ongelukkig te besig met die rugby.
“Toe ek in Potchefstroom kom studeer en vir die Puk rugby speel, het ek weer by boks betrokke geraak toe ek my rugbybeurs verloor het,” noem Nebe, wat toe sy liefde vir boks weer herwin het. Saam met die befaamde Potchefstroomse bokser, Sean Santana, het Nebe toe opleiding by sy boksklub gekry, asook by sy twee afrigters in die Vrystaatspan.

Wilhelm Nebe.

Hierdie kranige vegter het by die Vrystaatkampioenskappe op 3 Junie sy opponente in die eerste 20-30 sekondes teen die mat gemoker en sodoende sy selfvertroue vir sy uiters suksesvolle vertoning by die SA Kampioenskappe opgebou.

In die nabye toekoms streef Nebe daarna om as ‘n professionele bokser deel te neem en die SA-swaargewigkampioen gekroon te word. “Ek het die afgelope twee jaar saam met Alan Toweel gewerk en hy het vir my gesê dat hy my professioneel sal maak in vyf maande. In dié stadium sal ek graag vir die huidige SA Swaargewigkampioen, Ruaan Visser, wil baklei in die volgende twee jaar.”

Kort feite:
Lengte: 2 meter
Gewig: 130 kilogram
Reikwydte: 90 cm
Skoengrootte: 16
Amateurrekord: 5-0 (almal eerste rondte uitklophoue)

https://www.nbcarsales.co.za/
https://www.nbcarsales.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button