Foto’s: Volkies se kampioensege teen Wesvalia sal lank onthou word
Dit was naelskraap, dit was dramaties en dit was aksie tot op die laaste oomblik toe Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste rugbyspan ‘n 28-23 oorwinning teen Hoërskool Wesvalia in die Virsekerbeker se Noordwesfinaal die afgelope Saterdag, 21 Julie behaal het. Die vere het behoorlik gevlieg soos Wesvalia se Bruin Bere amper vir ‘n sege van …

Dit was naelskraap, dit was dramaties en dit was aksie tot op die laaste oomblik toe Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste rugbyspan ‘n 28-23 oorwinning teen Hoërskool Wesvalia in die Virsekerbeker se Noordwesfinaal die afgelope Saterdag, 21 Julie behaal het.
Die vere het behoorlik gevlieg soos Wesvalia se Bruin Bere amper vir ‘n sege van hulle eie op Volkskool se velde gesorg het, maar aan die einde het Volkies losskakel, Stephan van Niekerk, se strafskop seker gemaak dat Volkies met arendsvlerke na oorwinning sweef.
Volkies het teen halftyd met 15-9 voorgeloop danksy hulle linkervleuel, Rikus van Zyl, wat twee pragdrieë gedruk het. Van Zyl het met spoed, grasie en ‘n daadwerklike honger vir die drielyn beide kere puik afgerond en een van sy beste vertonings nog in ‘n Volkietrui gelewer.
Hy was verskeie kere die katalisator wat Volkies se agterlyn goeie voordeel gegee het, en tesame met sy vleuelmaat, Gustav Erlank en binnesenter, Jannie Claassens het hulle gedurig Wessies se verdedigers besig gehou. Claassens kon Volkies ‘n groter voorsprong teen halftyd gegee het, maar hy is oor die doellyn met puik verdediging gestuit toe dit gelyk het of hy maklik die bal kon gedruk het.
Dit het gelyk of Wesvalia hierdie gelukskoot goed benut het toe hulle eerste in die tweede helfte druk met Zanes Einkamerer wat oorgegaan het om sy span ‘n 16-15 voorsprong te gee. Claassens het toe wel opgemaak vir sy mislukte poging en na ‘n kort stormlopie sy drie gaan druk om Volkies weer die voortou te gee.
Wesvalia se agterlyn het self vir verskeie hoogtepunte gesorg in ‘n aanskoulike wedstryd propvol hardlooprugby. Einkamerer en Hendré Pretorius op losskakel het gedurig Volkies se verdedigers besig gehou. Pretorius was ook koel en kalm met sy skoppe pale toe om Wesvalia altyd binne bereik te hou.
Dit was ook indrukwekkend om te sien hoe Volkies se voorry met bal in die hand hulle vaardighede bewys het. Kobus Burger en Francois Fourie het keer op keer en sonder skroom ‘n hele paar meter gewen. Die voormalige Volkie, Anton Fuller, het byna sy vorige skool se kanse in die wiele gery toe hy met 10 minute speeltyd oor, sy span se tweede drie druk. Fuller was van die begin af ‘n doring in Volkies se vlees en het as agtsteman uitgeblink op beide aanval en verdediging vir die besoekers. Met Pretorius wat die drie verdoel het, was die telling 25-23 en ‘n mens kon die spanning met ‘n mes sny.
Van Niekerk se strafskop was die laaste doodsteek vir Wesvalia wat wel tot op die einde sonder sukses op Volkies se 5 meter lyn geboer het.
Dit is die 26ste keer dat Volkskool se eerste rugbyspan die Noordwestrofee verwerf en die vierde keer dat die afrigtingspan van Daan Seymore, Christo van Heerden en Johan Herbst die trofee in hulle besit het.
“Vandag het die spelers net weer bewys dat hulle die guts het om hulle beste te gee wanneer dit tel. Ons is ongelooflik trots op hierdie groep en hulle verdien dit. Dit is ook ‘n spesiale oomblik vir ons as afrigtingspan om weer die beker vas te hou,” het Seymore met blydskap genoem.


































