PAWS het Vrydag 12 Oktober ’n hond by ’n erf in Ikageng gaan haal nadat hulle laat weet is dat die uitgehongerde hond dag en nag aan ’n ketting in die erf vasgemaak is.
PAWS inspekteur, Elloise Rootman, het Vrydag met ’n hofbevel en vier polisiebeamptes na die huis gegaan waar hulle die hond gekry het.
Rootman sê die boerboelkruising-reun van sowat twee jaar oud was baie uitgeteer. ’n Saak van dieremishandeling word teen die eienaar ondersoek.

“Ons het ook gerugte gehoor dat die hond gebruik word as ’n “bait hond” om veghonde wat in hondegevegte gebruik word, op te lei,” sê sy. PAWS ondersoek tans dié gerugte.
Die hond is baie liefdevol en het baie energie. Hy het reeds vandat hy by PAWS aangekom het, gewig opgetel en lyk al baie gesonder.
PAWS (toe nog DBV) het in 2015 ook ’n boerboel wat erg uitgehonger en verwaarloos was, by dieselfde eiendom gaan haal.
Dié hond, wat later bekend gestaan het as Mr Bones, het intussen ’n nuwe eienaar gekry.

Rootman sê die hond wat Vrydag by die eiendom gaan haal is gaan nou eers in pleegsorg geplaas word tot die hof besluit of die hond wel mag teruggaan na sy eienaar.
Rootman sê dit is egter onwaarskynlik en wanneer die hofsaak afgehandel is, sal die hond heel moontlik beskikbaar wees vir aanneming. “Ons het intussen gehoor dat die eienaar van die hond vandeesweek ’n nuwe hond gekry het,” sê Rootman.
Sy sê hoewel PAWS nie die eienaar mag verbied om honde aan te hou nie, hulle gereeld besoek daar sal aflê om seker te maak die nuwe hond word goed behandel.




