Potchefstromers bring hulde aan Prof. Johan Claassen
Dit is hoe Potchefstromers vir Johan Claassen onthou: André May (Luiperds Rugbyunie president) “Ek het die voorreg gehad om vir Wes-Tranvaal te kon speel toe Johan Claassen nog Wes-Tranvaal Rugbyunie president was en volgens my was hy ‘n absolute kolos, nie net in Wes-Transvaal rugby nie, maar ook Springbokrugby. Claassen is nommer 1 in ons …
Dit is hoe Potchefstromers vir Johan Claassen onthou:
André May (Luiperds Rugbyunie president)
“Ek het die voorreg gehad om vir Wes-Tranvaal te kon speel toe Johan Claassen nog Wes-Tranvaal Rugbyunie president was en volgens my was hy ‘n absolute kolos, nie net in Wes-Transvaal rugby nie, maar ook Springbokrugby. Claassen is nommer 1 in ons heldesaal by die Luiperds en was in die moderne era ‘n ware superster. Naas Dok Craven was hy sekerlik die grootste Springbok van alle tye. Ek onthou by die Luiperds se “Aand van die Slotte”-funksie so vier jaar gelede, het hy die ongelooflikste toespraak gelewer.
Mense besef nie altyd hoe briljant hy was nie. Hy was in ‘n klas van sy eie.
Jan Fourie (voormalige Luiperds-president en ook Luiperds ere-president)
“Oom Johan was ‘n uitstekende Springbok- en Wes-Transvaalspeler en ek sal hom ook onthou as ‘n regverdige en reguit administrateur. Ek het baie by hom geleer en as beskermheer van die unie was hy altyd daar om positief by te dra en ons te help. Hy was een van my groot leermeesters. Hy was ‘n baie standvastige man en SA Rugby sal hom beslis mis.”
Retha Goosen (Claassen se sekretaresse by die Puk Sportburo en Wes-Transvaal Rugbyunie)
“Johan was ‘n baie saggeaarde mens wat altyd kon luister, al het hy nie altyd baie gepraat nie. Die spelers was altyd vrek bang vir hom, maar dit is omdat hulle hom gerespekteer het. Johan was eintlik maar ‘n ou softie en het baie vir mense om hom omgegee. Ek het saam met Johan by die Sportburo in 1981 begin werk tot en met 1998 by die Wes- Transvaal Rugbyunie.”
Sakkie Raath (voormalige Puk en Wes-Transvaal rugbyspeler)
“Dit was vir my ‘n voorreg om onder Johan Claassen se afrigting vir die Puk in 1962 uit te draf. As student was hy vir ons soos ‘n pa gewees. Sy maniere en houding was iets wat ons nagestreef het. Hy was ‘n streng, ferm en voorbeeldige mens.”




