SportSport

Frenz en Senokwane maak groot hondertalle, maar Noordwes kan nie nederlaag keer

‘n Wipwa-wedstryd van astronomiese proporsies het die afgelope naweek (10-12 November) by Senwespark afgespeel toe die Noordwes Dragons met 28 lopies teen SWD verloor het. Dit ondanks die feit dat die Noordwes Dragons se Richardt Frenz met 168 (226) en Lesego Senokwane met 147 (291) absolute sterre vir die tuisspan was en ‘n vennootskap van …

‘n Wipwa-wedstryd van astronomiese proporsies het die afgelope naweek (10-12 November) by Senwespark afgespeel toe die Noordwes Dragons met 28 lopies teen SWD verloor het.
Dit ondanks die feit dat die Noordwes Dragons se Richardt Frenz met 168 (226) en Lesego Senokwane met 147 (291) absolute sterre vir die tuisspan was en ‘n vennootskap van 291 lopies in die eerste beurt getimmer het.

SWD het eerste gekolf en 284 almal uit aangeteken, voordat Noordwes met 411/8 verklaar, hul stempel afgedruk het.
SWD het in hulle tweede beurt 244 aangeteken, voordat Noordwes onverklaarbaar in hulle jaagtog om 118 lopies vir ‘n oorwinning vir slegs 89 lopies uitgeknikker is.

Frenz het 29 viere in sy beurt gemoker en sodoende sy hoogste telling in eersteklaskrieket behaal.

Tesame met Senokwane se 12 grenshoue, het hierdie twee gewys hoe om die kolfkampie vir ure te benut. Senokwane het juis ook sy eerste hondertal in eersteklaskrieket aangeteken en ’n kolfbeurt gespeel wat sy groei as speler perfek beklemtoon het. Albei kolwers het die slegte balle grens toe gestuur, met Frenz wat meer aanvallend gespeel het, terwyl Senokwane heel rustig sy eie persoonlike hoogste telling in eersteklas krieket aangeteken het.
Frenz noem juis dat hierdie beurt ‘n keerpunt vir hom is na ‘n moeilike eerste paar wedstryde van die seisoen, waar hy nie kon lopies behaal nie.

“Ek is baie trots op die honderd en dit voel goed om by te dra.
Dit was goed om weer lopies te maak na ‘n moeilike begin tot die seisoen.
Ek was gemotiveerd om 2019 goed te begin, so ek het vir myself gesê dat ek op die goeie kolfblad lopies moet maak.
Ek het gevoel ek moet so positief moontlik wees met my beweging in die begin.
My kolfbeurt het fantasties begin (30 van 30 balle) en van daar af kon ek makliker lopies maak,” sê Frenz, wat al 35 eersteklaswedstryde en 6 hondertalle op sy kerfstok het.

Volgens Frenz was hy ook bly dat hy en Senokwane saam kon kolf en so ‘n reuse vennootskap aanmekaar slaan.

“Ja, ek en Lesego kolf altyd lekker saam omdat ons albei baie kalm is. Ek is net bly dat ons goeie tellings kon behaal en vir lang ure kon kolf.
“Dit is jammer dat ons op die ou einde die wedstryd verloor het, en ons moes definitief die lopies gemaklik gekry het.”

Ander sterre vir die Dragons was ook die linkerarm draaibalbouler, Johannes Diseko wat 5/85 in SWD se tweede beurt behaal het, sowel as Noordwes kaptein, Brady Barends wat met syfers van 6/59 in SWD se eerste beurt gespog het.
Die SWD se wedstrydwenners was Niel Hornbuckle met 5/34 in die tweede beurt wat Noordwes laat sink het. Die veelsydige Marcello Piedt was ook uitstekend met die bal (5/54) en ‘n 86 in sy span se eerste beurt.

Boston

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button