Kaptein Chucky gooi kanker na die kantlyn
Die eer om die NWU Varsitybekerspan vanjaar op die veld te lei, is in die trotse en opgewonde Namibiese haker, Louis “Chucky” van der Westhuizen, se bekwame en gewillige hande. Van der Westhuizen speel vanjaar in sy vierde Varsitybeker en dit was veral sy puik werksverrigting in 2018 wat hierdie rooikop ‘n huishoudelike naam in …
Die eer om die NWU Varsitybekerspan vanjaar op die veld te lei, is in die trotse en opgewonde Namibiese haker, Louis “Chucky” van der Westhuizen, se bekwame en gewillige hande.
Van der Westhuizen speel vanjaar in sy vierde Varsitybeker en dit was veral sy puik werksverrigting in 2018 wat hierdie rooikop ‘n huishoudelike naam in beide NWU en Luiperdskleure gemaak het. Sy prentjie kon wel baie anders gelyk het en sake kon wel Suid gegaan het nadat hy in 2015 met kanker gediagnoseer is, maar hy het aanhou Noord beweeg, homself nader aan God geanker en met pure vasberadenheid sy drome bewaarheid.
“Ek het ‘n melanoom (velkanker) aan my kop gekry en gelukkig het ek dit vinnig opgetel, so ek het nooit vir chemoterapie gegaan nie. Ek het daarvan bewus geraak nadat my kop in ‘n rugbywedstryd gebloei het omdat die melanoom oopgetrap was. Om die nuus te hoor was eers ‘n groot terugslag, maar die hele situasie het my nader aan die Here en my familie gebring. Ek is nog steeds ‘n kankerpasiënt en gaan elke ses maande vir opvolgsessies, maar ek is skoon en dankbaar om die beste rugby van my lewe te kan speel,” se Van der Westhuizen wat ‘n B.Sc-graad in elektriese ingenieurswese agter sy naam het.
Daar is min spelers in die NWU se 2019 Varsitybekerspan wat soveel respek soos Van der Westhuizen handhaaf en daar is geen twyfel dat hierdie trotse Puk sy span vanjaar met mening op die veld sal lei nie, met die trots wat reeds oor sy hele gesig gelees kan word.
“Dit is my eerste keer as Varsitybekerkaptein en dit is ‘n groot eer om die universiteit as kaptein te verteenwoordig. Die hele universiteit kyk op na jou en jy wil net jou beste gee. Dit is beslis die trotsste oomblik van my loopbaan. Dit gaan belangrik wees om dit nie te oordink nie en ook op dieselfde vlak as die spelers te bly. Dit gaan vir my daaroor om die beste uit die span te bring,” noem Van der Westhuizen, wat verlede jaar ook die Luiperds op die veld gelei het.

Van der Westhuizen noem ook dat die huidige leiergroep by die NWU ook dit makliker vir hom maak om sy stempel af te druk.
“Kyk ons het baie ervare spelers soos Schalk (Hugo) en Cheese (Chriswill September) onder andere, wat dit vir my as kaptein makliker maak. Ons het ook ‘n goeie voorseisoen gehad waar ons op fiksheid gefokus het en ook in ‘n mindere mate aan wedstrydplanne begin werk het,” vertel hy.
Volgens Van der Westhuizen is die groot doelwit om die Varsitybeker te wen, maar dat hulle dit wedstryd vir wedstryd gaan vat en verskillende doelwitte op die aanval en verdediging het as voorbeeld.
“Natuurlik werk ons om weer die beker te wen en dit sal ongelooflik wees om dit hierdie jaar te kan wen. Tog kan ons nie te ver vorentoe fokus nie en eerder wedstryd vir wedstryd bou.”

Ervaring is ook een van die elemente wat in sy guns kan tel, aangesien hy Namibië al 19 keer op toetsvlak verteenwoordig het. Druk was nog nooit vir Van der Westhuizen ‘n groot dilemma nie, aangesien hy al vir sy land by die 2015 Rugbywêreldbeker uitgedraf het. “Ek het al saam met goeie kapteins soos Jacques Burger, vir Namibië gespeel en ek leer baie daaruit. Die span kom vir my altyd eerste en ek sou sê dat die ervaring op internasionale vlak voordelig is, maar my nie bo ander spelers plaas nie,” noem hy nederig.
Interessant genoeg was Van der Westhuizen se doel nooit spesifiek om vir die NWU se Varsitybekerspan te speel toe hy in 2014 vir die eerste keer sy voete in Potchefstroom gesit het nie, aangesien sy fokus meer op akademie was.
“Ek het Akademieweek op skool gespeel, maar my doel was om op my graad te fokus. Ek het toe bietjie koshuisrugby vir Over de Voor gespeel en dit is toe dat die destydse Luiperds o.19 afrigter, Melusi Mthethwa, my raaksien. Hy het my oorreed om ‘n kans te vat en my rugbyloopbaan het vlamgevat toe ek die o.19 Luiperdskaptein geword het en vir Namibië se Wêreldbekerspan gekies is. Phil Davies (Namibie se afrigter) was een van my mentors wat my selfvertroue baie opgestoot het,” noem hy.
‘n Kanniedoodhouding is iets wat na aan Van der Westhuizen se hart is en hy maak seker dat hy een van sy helde, voormalige All-Black kaptein, Richie McCaw se woorde op sy mou dra. “Sy slagspreuk: “Start Again” het my al baie deur uitdagende tye in my studies en rugby gedra en iets wat ek gebruik om elke dag as ‘n nuwe geleentheid te sien om ‘n verskil te maak.”
Chucky se gunstelinge:
Kos: “Ek is mal oor hoender. Jy kan my vang met ‘n stukkie hoender”
Stokperdjies: “Visvang is vir my baie lekker en ek ontspan dan.”
Flieks: “Ek hou van ‘n aksie-komedie. Soos ‘n Jackie Chan tipe fliek.”
Musiek: “Voor ‘n wedstryd sal ek hard rock en metal luister, maar ek luister ook ander style. Enige iets behalwe jazz en opera.”
Beste aspekte om Varsitybeker op die Fanie du Toit-gronde te speel: “Die studente se gees en die algehele atmosfeer tussen die mense en natuurlik die cloaks voor die wedstryd”
Die oorsprong van die bynaam: Dit is ‘n koshuisnaam en dit verwys na die pop “Chucky” en ek het ook trekke na Chuck Norris, omdat my hare rooi is. Daar was ook ‘n ander Louis in ons koshuis, so toe word ek Chucky. Nou noem my gesin my ook Chucky.



