SportSport

Varsitybeker: NWU vat UJ in eerste rondte aan

Na maande se afwagting gaan talle rugbymal studente en ondersteuners weer Maandagaand 4 Februarie hulle oë op die kassie vasgenael hê wanneer die NWU teen UJ in Johannesburg in die eerste rondte van die 2019 Varsitybeker te staan kom. Tradisioneel het die NWU en UJ nog altyd taai tweestryde opgelewer met net ‘n paar punte …

Na maande se afwagting gaan talle rugbymal studente en ondersteuners weer Maandagaand 4 Februarie hulle oë op die kassie vasgenael hê wanneer die NWU teen UJ in Johannesburg in die eerste rondte van die 2019 Varsitybeker te staan kom.

Tradisioneel het die NWU en UJ nog altyd taai tweestryde opgelewer met net ‘n paar punte wat die twee spanne skei.

Verlede jaar se halfeindstryd tussen dié twee spanne was die uitsondering, met die NWU wat met 60-31 op ‘n sopnat Fanie du Toit Sportgronde gemaklik verby hul oranje vyande geswem het.
UJ sal wel nie die seisoen reeds aan die diepkant wil begin nie en sal hulle tuisvoordeel moet gebruik om die NWU dié keer te stuit.

UJ sal graag die oorwinning van 2015 wil herroep toe hulle met 10-8 op tuisgrond geseëvier het.
UJ sal mooi dopgehou moet word onder die kapteinskap van Adriaan Bester en die afrigting van nuwe afrigter, Dewey Swartbooi.

Die NWU spog vanjaar met ‘n klompie nuwelinge en ervare manne wat hulle hande in die oefenwedstryde teen Tukkies verlede naweek reeds opgesteek het.

Die NWU het hierdie wedstryd in Pretoria met 33-14 gewen en goeie momentum vir die komende seisoen opgebou. Dit was veral die Namibiërs wat in pers beïndruk het met Wian Conradie op nommer 8 en kaptein, Chucky van der Westhuizen wat twee drieë ingepalm het.

Voorlangs was die NWU op hulle stukkie met die stut Botter Moloto sowel as die slotte, Johan Retief en Danny du Plooy wat sake goed hanteer het. Die ervare flank, Gideon van der Merwe was ook ‘n kolos gewees en as hy beseringsvry kan bly, sal hy ook komende Maandag teen UJ sy staal wil wys.

Agterlangs sal Chriswill September en Schalk Hugo se instinktiewe verhouding weer die platform vir die aanval skep, terwyl nuwelinge soos Chuiner van Rooyen, Mitchelle van der Merwe en die standvastige AK Nela gapings sal wil benut.

Die NWU is vir die vierde agtereenvolgende jaar onder die breierskap van Jonathan Mokuena en verlede jaar se naaswenners sal hierdie jaar een stappie verder wil gaan.

“Die span is op die regte plek en Chucky is ’n uitstekende leier. Hy sê nie baie nie, maar die manne respekteer hom. In die oefenwedstryd teen Tuks het die spelers hard gewerk en ek was bly oor die moeite en wilskrag wat hulle gewys het,” het Mokuena gesê.

Die nuwe spelers in die groep soos vleuels Mitchelle van der Merwe en Pienaar van Niekerk, het ook Mokuena se oog gevang.

“Hulle het bo hulle gewig gespeel en hulle spel het my beïndruk.”
UJ was nog nooit in ‘n eindstryd nie en sal vanjaar met ‘n wen teen die NWU hulle reputasie as buiteperde wil verstewig. Die aksie skop om 16:45 af en kan op Supersport 1 gevolg word.

NWU teen UJ: 
Chuiner van Rooyen, Pienaar van Niekerk, Evardi Boshoff, AK Nela, Lungelo Goza; Schalk Hugo, Cheese September; Wian Conradie, Wandi Mazibuko, Gideon van der Merwe, Johan Retief, Danny du Plooy, Robert Hunt, Louis van der Westhuizen (kaptein)  Botter Moloto. Reserwes: Marius Stander, Matima Maganyi, Douglas Bruce-Smith, Danny du Plooy, Edward Haas, Sylvester Hassien, BF van Staden, Mitchelle van der Merwe

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button