NWU se Young gereed om sy merk as naelloper te maak
Die NWU-hekkiesatleet, Theodor Young, gaan vanjaar sy fokus na naellope verskuif met die groter geleentheid om oorsese glorie en sukses in sy jong loopbaan te behaal. Young (22), wat onder die afrigting van die bekende voormalige SA 110m hekkiesatleet Shaun Bownes, die afgelope drie jaar hekkies oefen, het saam met Bownes besluit om vanjaar sy …

Die NWU-hekkiesatleet, Theodor Young, gaan vanjaar sy fokus na naellope verskuif met die groter geleentheid om oorsese glorie en sukses in sy jong loopbaan te behaal.
Young (22), wat onder die afrigting van die bekende voormalige SA 110m hekkiesatleet Shaun Bownes, die afgelope drie jaar hekkies oefen, het saam met Bownes besluit om vanjaar sy energie in dié nuwe item te sit.
“Realisties dink ek dat ek dit sal maak en is positief oor die nuwe seisoen, omdat my tye tans teen ‘n -2.2 wind van vooraf op ‘n buitenshuise baan goed is. My beste tyd sover is 10.45 in die 100m en 6.72 in die 60m,” noem Young, wat ‘n vierde jaar meganiese ingenieurswese student aan die NWU is.
Young is ‘n formidabele hekkiesatleet, maar kon ten spyte van goeie vertonings in hekkies-items tydens die USSA Atletiekkampioenskappe sowel as die Varsity Atletiekkampioenskappe nie daarin slaag om onder die 14 sekonde merk te kom nie. Young se beste tyd in hierdie item is 14:07.
“Ons doelwit is om vir Theodor Nederland toe te stuur sodat hy kwalifiserende tye kan hardloop vir volgende jaar se Wêreld Binnenshuise atletiekkampioenskappe in Nanging, China,” het Bownes genoem.

Die probleem is dat ons nie in SA regtig binnenshuise bane het nie, so as hy goeie tye daar hardloop, kan dit aanvaar word en dan het hy ‘n kans om die SA-span te haal,” voer hy verder aan. Volgens Bownes gaan dit die eerste volle atletiekseisoen wees waar Young spesifiek op die 100m gaan fokus met die doel om 10:20 te hardloop in dié item.
“Ons gaan onsself ook toespits om vir Theo reg te kry vir die 100m vir die opkomende atletiekseisoen. Die idee is om klein stappe te neem om hom reg te kry vir die nuwe item, omdat hy tradisioneel ‘n hekkiesatleet is. Dit is ‘n nuwe avontuur wat ons gaan aanpak.”
Young het op 23 Januarie na Nederland vertrek en behoort vroeg in Februarie terug te wees in Potchefstroom vir die opkomende atletiekseisoen.




