Volkies se eerstes val vas teen Nelspruit
Volkies het die afgelope Saterdag (2 Februarie) hulle derde nederlaag in ’n ry in vanjaar se Finsbury A-liga beleef toe hulle teen Nelspruit met vier paaltjies verloor het. Volkies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Christiaan Bester was vroeg uit, waarna Van Zyl Smit en Niel Jansen van Vuuren te midde …
Volkies het die afgelope Saterdag (2 Februarie) hulle derde nederlaag in ’n ry in vanjaar se Finsbury A-liga beleef toe hulle teen Nelspruit met vier paaltjies verloor het.
Volkies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Christiaan Bester was vroeg uit, waarna Van Zyl Smit en Niel Jansen van Vuuren te midde van gedissiplineerde boulwerk die beurt gebou het. Van Vuuren het ‘n geduldige 31 (70) aangeteken. Smit het ‘n ware kapteinsbeurt gespeel en 82 (85) lopies aangeteken. Die beurt het 8 viere en 2 sesse ingesluit. Daarna was dit egter net Timothy Malan met ‘n vinnige 33 (29) en Lohard Jansen van Rensburg met ‘n moedige 29 (23) van die ander Volkie kolwers wat enige noemenswaardige bydraes gelewer het. Volkies het 236 lopies aangeteken en die tafel was gedek vir ‘n opwindende wedstryd.
Nelspruit het vinnig begin met Tristan Parnell wat 26 van net 21 aangeteken het. Volkies se snelboulers het weer eens ‘n moeilike dag beleef en gesukkel om paaltjies te kry.
Die graad 10 nuweling, Stephan Fourie, het egter baie goed geboul en was ongelukkig om net 1 paaltjie te kry in sy 9 beurte waarin hy net 31 lopies afgestaan het. Hy is goed bygestaan deur Van Zyl Smit en Waldo Kemp. Gemotiveerde veldwerk het daartoe gelei dat twee kolwers van Nelspruit uitgehardloop is. Dit was egter die puik honderdtal van Niel Henning wat tussen Volkies en ‘n oorwinning gestaan het. Nelspruit het die wentelling bereik met 21 balle oor en vir die verlies van 6 paaltjies. Volkies kon na drie wedstryde nog nie vanjaar ‘n Finsbury wedstryd wen nie. Die oorblywende twee teen Waterkloof en Rustenburg gaan maak of breek wees om hulle plek in die Finsbury A-liga te behou.




