‘n Kombinasie van ervare talent en jong kokende krieketbloed het vir Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan die fondasie gelê vir ‘n puik oorwinning in die Coca-Cola Noordwes T20 Skoletoernooi die afgelope Sondag by die NWU Puk-Oval.
Volkies se veelsydige vertonings, eers in die halfeindstryd teen Hoërskool Lichtenburg (wen met 21 lopies) en toe in die eindstryd teen Hoërskool Rustenburg (wen met 78 lopies) het geen twyfel gelaat dat hulle die beste in die provinsie in dié formaat is nie.
Christiaan Bester se gesamentlike 107 lopies in albei wedstryde het bewys dat aantreklike kolfwerk ook ‘n plek in T20 krieket het, terwyl Jannie Claassens se brute krag weer ook ‘n fees vir die oog was.


Nog iets wat uitgestaan het in dié toernooi was hoe slim en akkuraat Volkies se draaiers, Corné Prinsloo, Van Zyl Smit en Stephan Fourie geboul het op ‘n blad, wat goed gehelp het. Die kaptein, Smit, was ook voortreflik met die kolf en was telkemale die rots wat Volkies in moeilike tye nodig gehad het.
Dit was veral so in die eindstryd toe Smit met 32 (39) sterk moes staan saam met Bester (41 van 37 balle) nadat Volkies vroeg op 6/2 in die moeilikheid was.
Rustenburg se Charl Naudé (1/11) in vier boulbeurte was op sy stukke en die Potchefstromers moes met tegniek en goeie verstand speel om die gevaar te laat sus. Volkies kon toe 150/5 aanteken wat genoeg was vir ‘n oorwinning met hulle boulers wat hulle hande hoog opgesteek het.
John van Wyk se 3/10 was briljant en hy het die belangrike paaltjie van Estiaan Schoenfeldt (25) gekry. Timothy Malan se 3/13 was ook ‘n groot faktor in Volkies se sege met Rustenburg se laaste 9 paaltjies wat vir slegs 40 lopies geval het. Schoenfeldt se 113* teen KHS in die halfeindstryd was ook ‘n beurt wat lank onthou sal word en kan as ‘n troos vir die Rustenburgers gesien word, wat met ‘n sterk span net nie die druk in die eindstryd kon hanteer nie.
“Ek is trots op die span wat baie goeie krieket gespeel het, veral in die laaste 10 boulbeurte met ons kolfwerk in die finaal. Dit het vir ons span ‘n momentumskuif gegee om die wedstryd te wen,” het Volkies se hoofafrigter, Andries Huisamen genoem.
Volkies kwalifiseer nou vir die Lions-Franchise finaal teen St. Stithians van die Gauteng-streek. Hierdie wedstryd gaan op Woensdag 6 Maart op die Wanderers in Johannesburg plaasvind. Die wenner sal dan die Lions verteenwoordig in die nasionale T-20-toernooi in Pretoria (Tukkies) vanaf 15-17 Maart.



