Die nuus dat die voormalige president van die Westelike Provinsie Rugby unie (WPRU), Thelo Wakefield hom nou by die Luiperds Rugbyunie as onafhanklike direkteur bevind, het ‘n gros negatiewe reaksie en kommer op sosiale media en landwye media die afgelope week ontlok.

Die President van die Luiperds Rugbyunie, adv. André May, glo wel dat die negatiewe opinie en kommentaar ongegrond is en dat Wakefield inderwaarheid ‘n positiewe verskil en impak vir die Luiperds gaan lewer.
Volgens May is sy besluit om Wakefield in te trek juis ‘n uitstekende troefkaart, aangesien die voormalige WP President 28 jaar se ervaring as administrateur en ses jaar as president by die grootste unie in SA Rugby het.
“Die Luiperds kan baie baat by Thelo se kennis en ervaring. Dit sou simpel wees van my om nie van sy kennis te gebruik nie.
“Ek en Thelo kom goed oor die weg en ek het respek vir hom. Hy het ‘n sterk gevoel vir die spel en is duidelik nie-rassig is nie,” het May genoem.
“Die ooreenkoms met Thelo is dat hy dieselfde vergoeding as ons ander direkteure kry. Hy betaal sy eie reiskostes en daar is geen ekstra uitgawes met sy aanstelling nie.”
Volgens May gaan Wakefield die Luiperds bystaan met ‘n onafhanklike mening oor die Luiperds se sake waar sy kennis oor klubrugby ook juis voordelig sal wys.
“Ons moet iets vernuwend doen en om Thelo aan ons kant te hê sal vir ons as unie baie beteken. Ek is baie opgewonde hieroor,” het May uitgebrei



