Kruger die ster vir NWU by eerste Varsity Atletiekbyeenkoms
Die NWU se atletieksterre is tans die Varsity Atletiek-voorlopers nadat hulle die eerste van twee byeenkomste in die reeks verlede Vrydag (1 Maart) naelskraap op die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch gewen het. Die NWU het op 15 590 punte geëindig met UJ op 15 545 punte in die tweede plek. Tukkies is derde met 15 434 …
Die NWU se atletieksterre is tans die Varsity Atletiek-voorlopers nadat hulle die eerste van twee byeenkomste in die reeks verlede Vrydag (1 Maart) naelskraap op die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch gewen het. Die NWU het op 15 590 punte geëindig met UJ op 15 545 punte in die tweede plek. Tukkies is derde met 15 434 punte.

Die Potchefstromers se top ster op die aand was die voormalige Gimmie-atleet, Joné Kruger, wat met die Victrix Ludorum-toekenning weggestap het. Naellopers, Chederick van Wyk (10.14 in 100m en 20.30 in die 200m) en Theodor Young (10.17 in die 100m en 20.40 in die 200m) was blitsvinnig met tweede en derde plekke in albei items. Verder het Danel Holton (54.74) en Ariane Nel (55.40) in die 400m-item ook hulle stemme dik gemaak. In die 100m en 110m hekkies-items het Tiaan Kleynhans (14.05) en Christin Fox (14.09) ook eerste plekke behaal wat tot die NWU se oorwinning getel het. Op die veld het Riette Heyns (diskus – 57.11m), Mpho Links (hoogspring – 2.20m), Tshepang Makhete (hamergooi – 64.74m) en Brendon Skinner (spiesgooi – 77.10m) ook met gouemedaljes uitgeblink. Vir Kruger, NWU se Victrix Ludorum-ster, was die byeenkoms ‘n geleentheid om haarself weer te bewys nadat haar atletiekloopbaan amper met beserings kortgeknip is. “In die eerste plek is ek ongelooflik dankbaar dat ek gesond en feitlik beseringvry is! My doel vir die eerste byeenkoms was om ‘n 6.40 te spring en die rekord te breek, maar om aangewys te word as Victrix Ludorum was ‘n groot verrassing,” vertel sy opgewonde.
Kruger was ook in haar noppies dat sy verskeie rekords kon breek nadat beserings haar amper gebreek het. “Die feit dat ek in staat was om met drie van my vier spronge die Varsity Atletiekrekord te kon breek, is vir my ‘n groot positiewe dat ek dit met ‘n 6.45m sprong kon voltooi.
“Dit is ‘n fantastiese gevoel om na ‘n baie moeilike jaar met beserings, vir jou harde werk beloon te word,” noem Kruger, wat haar ouers, fisio, Anita van der Lingen-Venter en afrigter, Werner Burger, hartlik bedank. Kruger se volgende doelwit is om konstant 6.40m te spring om vir die Wêreld Studentespele gekies te word en dan ook die seisoen met ‘n rekord van 6.60m af te sluit.








